Local news

Op 84 ‘smous’ tannie Ivy nog fluks

Dit is vir my heerlik om te smous en te weet ek gee vir iemand iets wat sy geld se waarde werd is, sê tannie Ivy Coston (84), wat nie verniet bekend staan as Bela-Bela se Tupperware-legende nie.

Ivy lag en sê haar ma het destyds vertel haar oupa was ’n Jood van Clocolan in die Vrystaat.

“Dit is seker daardie Joodse bloed wat maak dat ek so baie van smous hou. Verkope en om met finansies te werk is my groot passie.”

Soek jy die nuutste uitvinding om jou taak in die kombuis te vergemaklik of sommer net ’n bêrebak, is Ivy daar om te help. Die Pos het oor ’n koppie koffie met haar gesels oor haar interessante lewe as ’n staatmaker-inwoner van die dorp wie se hande en hart altyd oop is vir ander.

Sy en haar man, Gus, het in 1971 vanaf Johannesburg na die destydse Warmbad verhuis.

“Ons het ’n erf vir net R450 in Oosthuizenstraat gekoop en ’n huis gebou. Gus het in die boubedryf gewerk en die bouery het nie by hul eie woning gestop nie. “Ek het gehelp kruiwa stoot dat dit klap toe die Pinkster Protestantse Kerk in Apiesdoringstraat gebou is. Ons het ook hard gewerk om die pastorie te bou.”

Die eerste pastoor is in 1973 aangestel. Vandag is dit die Nuwe Lewe-aanbiddingsentrum, vertel sy.

Ivy se werksloopbaan het in daardie jare as komiteeklerk by die munisipaliteit begin en kort voor lank was sy die sekretaresse van die stadsklerk. Later is sy aangestel as sekretaresse van die destydse burgemeester.

“Ek het swanger geraak en my man het geglo ek moet tuis wees totdat ons dogtertjie drie jaar oud is. Ek het egter tussendeur afloswerk by prokureurskantore gedoen en ook die munisipaliteit met hul veiligheidsnetwerkstelsel gehelp.”

Sy vertel ’n destydse hoof van Hoërskool Warmbad het haar tydens ’n atletiekbyeenkoms gevra om vir drie maande te gaan uithelp met die tik van vraestelle. Die drie maande het 30 jaar geword.

“Ek het besef ek sal my matriek moet skryf anders sal die departement my nie bevorder nie. In my geval was dit Ma-skryf-matriek. My kinders was al groot toe ek in 1983 my matriekeksamen suksesvol afgelê het,” lag sy

Sy is later bevorder na hoofklerk van finansies waar sy verantwoordelik was vir onder meer die invordering van skoolfonds en betrokke was by talle fondsinsamelings. Ivy se man is in 1988 oorlede.

Sy vertel vandaar het sy die pot aan die kook gehou. Haar liefde vir verkope het nooit agterweë gebly nie. Ivy het in haar vrye tyd waterlose kastrolle verkoop.

“Ek het my kastrolle by die Warmbad-skou uitgestal en was twee jaar lank die voorsitter van die vrouekomitee van die skou. Ek was ook een van die eerste uitstallers by die destydse Sonskynfees. Dit was te heerlik om my kastrolle daar te verkoop. Ek het daardie jare feitlik almal op die dorp geken.”

Ivy sê om met mense te gesels en ook te weet dat sy ’n fantastiese produk verkoop, is vir haar vervullend.

“Ek het my kinders geleer as jy kan koop, kies vir jou die beste produkte, want dan koop jy nie weer nie. Ek het besluit ek gaan nooit minderwaardige produkte verkoop nie. My naam is vir my baie meer werd.”

Toe al die skoue begin opdroog, het haar fokus verskuif na die verkoop van Tupperware. Sy is nou al sowat 15 jaar hierby betrokke en sê die praatjies wat nou die ronde doen dat Tupperware se fabriek gaan sluit, is bog. Tupperware se gô is nog lank nie uit nie, meen sy.

Benewens haar liefde vir verkope, was Ivy ook drie jaar lank sekretaresse van die Suiderkruisfonds en komiteelid van die Warmbad Rusoord en ook van Huis Talje.

Sy wys trots die Bela-Bela Star Awards-sertifikaat wat sy in 2010 ontvang het vir haar onbaatsugtige diens aan die gemeenskap.

“Die dag toe ek 65 word en moes aftree, het die beheerliggaam gevra dat ek nog ’n bietjie aanbly. Ek was skaars weg by die skool, toe Ruben Aldum van Aldum RJ en Kie Rekenmeesters bel om te hoor of ek nie twee dae per week vir hom wil kom werk nie. Ek het ook deeltyds vir Tromar-ambulansdienste gewerk. Ek werk die afgelope 16 jaar vir die rekenmeesters en daar sal seker ’n tyd kom dat ek sal moet groet. Ek geniet my werk ontsettend baie.”

Sy vertel ook van haar liefde vir die Here.

“My hele lewe loop ek saam met Hom. Ons is nie gevrywaar teen die ‘oppe en affe’ van die lewe nie, maar die Here is ook in die laagtes daar vir jou en ek fokus op die positiewe.”

Met die uitstap vertel Ivy hoe hartseer sy is oor die dorp se verval. “Ons het jare lank die eerste prys gekry vir die mooiste spoorwegstasie en die hospitaal se tuine was ’n blommefees.”

Dan lag die trotse ma en ouma van vier kinders, sewe kleinkinders en drie agterkleinkinders en sê sy moet eers een van haar baie grappies vir my vertel voor ek loop.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button