Local news

Dood van talentvolle Abby skok dorp

Sy het altyd gesê, “Ohana means family and family means no one gets left behind.” Haar verhouding met die Here was vir haar baie kosbaar.”

Die Bela-Bela-gemeenskap het die afgelope week saam met die Brits-familie gerou oor hul dogter, Abbygail Brits (25), wat onverwags dood is.

Abbygail is op Dinsdag 18 April in Bethlehem oorlede nadat daar waarskynlik ’n bloedklont deur haar hart is, het haar ma, Elsie, vertel.

Sy sê haar dogter het geen gesondheidsprobleme ervaar nie.

Abbygail, wat in 1997 in Parys gebore is, sou in Julie haar 26ste verjaardag gevier het.

Sy en haar gesin woon jare al in Bela-Bela. Sy het haar skoolloopbaan by Laerskool Warmbad begin en in 2015 aan Hoërskool Warmbad gematrikuleer. Sy word onthou vir haar geesdrif, kreatiwiteit en vriendelike geaardheid.

“Sy was baie lief vir hokkie en ongelooflik goed in kuns. Sy was onder meer kaptein van die Warries se tweede hokkiespan en haar kunswerk is in die Staatsteater in Pretoria uitgestal,” vertel Elsie. “Sy is ook voorheen as Mej. Persoonlikheid in ’n Mej. Bela-Bela-skoonheidskompetisie aangewys.”

Sy het ná skool ’n diploma in personeelbestuur behaal en toe vir ’n tyd vir Kwapele Foods (Clabo Beleggings) gewerk. Sy het ten tyde van haar dood vir die maatskappy Nu-Pro in Bethlehem gewerk.

“Abby was ’n positiewe en gelukkige mens. Sy het die vermoë gehad om ander mense op te beur en te inspireer. Sy was bekend vir haar aansteeklike, breë glimlag. Sy het baie liefde gehad om te deel en was avontuurlustig. Sy het geglo dit was belangrik om positief te wees,” vertel Elsie. Sy het altyd gesê “Ohana means family and family means no one gets left behind.” Haar verhouding met die Here was vir haar baie kosbaar.”

Sy was ook baie lief vir haar drie honde wat sy as haar “fur babies” beskryf het.

Haar begrafnis het op Woensdag 26 April vanuit die Nederduitse Hervormde Kerk in Bela-Bela plaasgevind.

Sy laat haar pa Hannes (Simba) en ma, Elsie (Dassie) Brits agter, asook haar jonger suster Bernadette, ouma Retha Brits en haar sielsgenoot, Tiaan Ellis.

Die familie bedank almal wat hulle in hierdie moeilike tyd ondersteun het.

Related Articles

Back to top button