Local news

Action SA besoek Bela-Bela-poskantoor ná verskeie klagtes

Lede van die Action SA-party in Bela-Bela het die plaaslike poskantoor verlede week besoek nadat inwoners gekla het oor lang rye en dat hulle sukkel om hul Sassa-kaarte te hernu.

Pensioentrekkers het by Action SA gekla dat sekere mense indruk in die ry wat onregverdig is teenoor bejaardes en gestremdes wat geduldig en met moeite hul beurt afwag.

Staatspensioene en toelaes word gewoonlik in die eerste week van elke maand aan begunstigdes by poskantore landwyd uitbetaal.

Archie Fouché van Action SA sê hulle het met die bestuurder, Sanah Kekana, vergader.

“Sy het vertel dat die mense wat die vorige dag teen sluitingstyd in die ry gewag het, die volgende dag eerste gehelp word. Die personeellede stel ’n lys van mense se name op en roep hulle dan uit. Gestremdes mag direk na die voorpunt van die ry beweeg,” sê Fouché.

“Ná ons besoek het die poskantoor onderneem om bejaardes en gestremdes wie se kaarte verval het, voortaan op Maandae en Dinsdae voorkeur te laat geniet. Die kennisgewing daarvoor is reeds aangebring. Inwoners wat kindertoelaes ontvang en wie se kaarte verstryk het, sal in die toekoms van Woensdae tot Vrydae gehelp word.”

Begunstigdes word versoek om drie maande se bankstate, asook ’n bewys van adres saam te bring, sodat hul toelaes direk in hul bankrekeninge oorbetaal kan word.

“Danksy die nuwe reëling sal die poskantoor meer mense kan bedien en sal bejaardes en gestremdes gouer gehelp word. Daar is nog uitdagings wat poskantore landwyd raak, soos beurtkrag en personeeltekorte, maar ons het toestemming van Kekana om weekliks die poskantoor te moniteer en inwoners by te staan.”

Fouché sê navrae kan telefonies aan Kekana gerig word by tel. (014) 736 2508/4896.

Related Articles

Back to top button