Local news

Kos en klere verlig nood

Die Covid-19-pandemie het Suid-Afrikaners bewus gemaak van hoe groot die behoefte vir kos en klere is.

Armoede in die omgewing het baie toegeneem, maar in Bela Bela is daar weldoeners wat nie skroom om te help nie, vertel Charmaine Griessel, stigter van die Bela-Bela Kos- en klerebank.

Sy sê sy sien dit as ’n roeping wat oor haar pad gekom het. Sy meen mense kort ’n bietjie ondersteuning en dit is lekker om werklike dankbaarheid op hul gesigte te sien wanneer jy iets doen of ’n bydrae lewer; al is dit hoe gering.

Die organisasie het drie dae nadat die Vlak 5-nasionale inperking van die Covid-19-pandemie in 2020 aangekondig is, die lig gesien.

Hierdie foto van Charmaine Griessel van Bela-Bela is tydens die Covid-19-pandemie se inperkingstyd geneem. Sy en haar span het sedert Maart 2020 nog nie opgehou om behoeftige mense te help nie.

Griessel sê dit het destyds min moeite geverg om as organiseerder van ’n liefdadigheidsorganisasie toestemming te kry om rond te beweeg (met ’n masker aan) en die nood van inwoners van die omgewing te bepaal en hulp te verleen.

“Die mooi daarvan is dat weldoeners kos en artikels begin skenk het en daarmee voortgaan om die nood van ander te verlig. Daar is baie mense wat steeds bereid is om te help,” vertel sy.

Deesdae, omtrent drie jaar later, is die hulpverleningsorganisasie steeds aktief en verskaf hulle kos en klere aan behoeftige mense in die omgewing. Daar word deeglik rekord gehou van elke skenking, sê sy.

Archie Fouché verleen tans ’n helpende hand by die klerebank vanuit sy woning in Moffatstraat.“Mense wat van ou klere ontslae wil raak, kan dit na my toe bring. Dit word glad nie verkoop nie, maar aan minderbevoorregte inwoners geskenk. Die rekordhouding is noodsaaklik om te keer dat behoeftiges nie meer neem as wat nodig is en dit dan herverkoop nie,” sê hy.

“Ons gee niks meer as vyf items per persoon weg nie en niemand mag dit namens iemand anders kom afhaal nie. Die klere word gewas en gestryk en ons het vroue wat help waar klein verstellings of herstelwerk nodig is. Ons kan egter nie afgeleefde of stukkende items aanvaar nie, want ons wil die minderbevoorregte persoon se menswaardigheid behou. Niemand wil met stukkende klere loop nie.”

Met die winter op hande is daar ’n groot behoefte aan warm wintersklere, komberse en beddegoed.Weens die stygende aantal gesinne wat geraak word deur werkloosheid, is weldoeners welkom om ook enige bruikbare huishoudelike items te skenk, sê Griessel.

“Ek verkies dat mense nie kontantdonasies maak nie, maar eerder oortollige items in hul kaste gee.”

Griessel en Fouché sê die skenkings is vir mense wat in die Bela-Bela-omgewing woon. Vir navrae kan mense Griessel bel by tel. 078 842 3210 of vir Fouché by tel. 079 869 5126.

Related Articles

Back to top button