Local news

Rehabilitasiesentrum in Vaalwater beoog

Dit is geen geheim dat Limpopo baie min rehabilitasiesentrums het om pasiënte met enige vorm van verslawing of gedragsafwykings by te staan.

’n Google-soektog kon slegs twee sentrums in Polokwane en Hoedspruit opspoor. Dit laat ’n groot leemte vir inwoners van Limpopo wat dikwels die meer bekende sentrums in Gauteng moet besoek indien hulle hulp nodig het. Dit bring ’n groot koste-implikasie by die reeds duur behandeling mee.

Die Woord en Lewe Kerk in Gauteng het dié behoefte raakgesien en beoog om ’n sentrum in die Vaalwater-omgewing te vestig.

“Ons is beslis in die proses met ’n ontwikkeling op die Waterbok-gasteplaas wat reeds ’n dekade aan die kerk behoort,” vertel Ashley Treurnich, skakelpersoon van die projek. “Die gasteplaas word gebruik vir konferensies, kerkdienste, kampe en troues. Die kerk voel egter dat die plaas vir iets meer gebruik kan word om die gemeenskap te ondersteun. Die bestuurskomitee het in 2022 met die idee vorendag gekom en goedkeuring is gegee vir ’n beradingsentrum.”

Die voorgestelde plan is vir ’n geregistreerde sentrum wat fokus op ’n individu se herstelpad en gesondheid waneer hulle met verslawing of gedragsprobleme sukkel, sê Treurnich.

“Ons dink die plaas is geskik hiervoor, aangesien die geboue reeds aan die standaarde voldoen. Ons nooi die gemeenskap om in Mei ’n voorlegging van ons planne by te woon. Mense kan dan meer inligting bekom en dalk vir ons ook raad gee.”

Die byeenkoms word beplan vir Woensdag 10 Mei en begin om 13:30 op die plaas.

Vir navrae en aanwysings kan mense die webtuiste by www.waterbokguestfarm.co.za besoek.

Related Articles

Back to top button