Local news

Ons Winkel hou modeparade

Die personeel van Ons Winkel in Mookgophong het ’n pragtige modeparade op Vrydag 31 Maart in gietende reën gehou met die klere wat in die winkel te koop is. Die modeparade is in die winkel gehou.

Ons Winkel is deel van Solidariteit Helpende Hand en alle items in die winkel is skenkings.

“Die doel van die modeparade was om die winkel se eerste verjaarsdag te vier en om bemarking te doen van die praguitrustings wat hier beskikbaar is,” het Joyce Kritzinger, kontrakteur van die winkel, aan Die Pos gesê.

Gaste was aangenaam verras om die goeie gehalte klere te sien en te besef dat ’n tweedehandse kledingstuk nog baie waarde het. Die klere is boonop spotgoedkoop aangebied. Daar is pragtige matriekafskeiduitrustings in almal se smaak, asook balrokke en elgante nousluitende skeppings.

Die gaste was ook beïndruk met die kreatiewe wyse waarop die organiseerders unieke kombinasies saamgestel het.

Antoinette Wagener het opgetree as seremoniemeester en die geleentheid is ook bygewoon deur Solidariteit Helpende Hand se plaaslike maatskaplike werker, Carol Anckewiech, en die Ons Winkel-areabestuurder, Heléne Schoeman.

’n Gawe groep vrywilligers het almal saamgewerk om die modeparade te verwesenlik en die modelle was ook almal vrywilligers. Almal wat by die modeparade opgetree het, het uitrustings gedra wat in Ons Winkel Naboomspruit gekoop is.

Die winkel het nie net mooi klere nie, maar ook soveel interessante en bekostigbare tweedehandse speelgoed, juwele, meubels en selfs antieke items te koop.

“Ons wissel die voorraad weekliks en stal dit mooi uit om weg te doen met die beeld van tweedehands.”

Enige meubels, oudhede, kombuisware, beddegoed, gordyne, speelgoed, klere, skoene, sporttoerusting, tegnologiese ware of enigiets anders wat in die pad staan kan geskenk word, het Kritzinger gesê.

Vir meer inligting, bel vir Joyce Kritzinger by tel. 076 900 9989.

Related Articles

Back to top button