Local news

Bela-Bela se ryke geskiedenis afgestof

Die Bela-Bela-omgewing is ryk aan geskiedenis en die belangstelling om dit te bewaar lê inwoners na aan die hart, maar wie en hoe gaan dit gedoen word?

Die Bela-Bela Heritage-organisasie het op Woensdag 12 April hul eerste vergadering met belangstellendes in Noodhulp gehou waartydens Johan van Niekerk, stigter, sy visie gedeel het.

“Die Engelse blokhuis in die dorp se industriële gebied, asook die geskiedkundige begraafplaas agter die Bela-Bela-munisipaliteit, lê my na aan die hart, maar die plekke is tans ontsettend verwaarloos. Ons kan dit verander,” het hy gesê.

“My visie is om kuratorskap van die geskiedkundige plekke in ons omgewing oor te neem en dit te bestuur. Ook om Bela-Bela Heritage deur wettige prosesse as ’n openbare weldaadsorganisasie te registeer sodat ons onder die dekmantel geplaas kan word van ’n nasionale erfenisorganisasie. Die groep kundiges sal ons van kennis, hulp en finansiële bystand kan voorsien.”

Die geskiedkundige blokhuis op die dorp is volgens hom een van die bes bewaarde blokhuise in die land. Hy vertel dat hy met sy onlangse besoek gevind het die gebou en perseel word tans as ’n stoorplek deur die munisipaliteit gebruik.

By die begraafplaas, waar die meeste van die dorp se stigters begrawe is, is verskeie van die grafstene reeds beskadig. Hawelose mense gebruik die perseel vir ablusie.

“Ek kry herhaaldelik navrae van munisipale amptenare wat hulp soek om die erfenisgebiede te help bewaar. Dit sal dus nie voorbarig wees om te sê dat ons moontlike ooreenkomste kan sluit met die plaaslike owerheid nie,”

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) het intussen bevestig dat hulle Van Niekerk in Mei sal bystaan wanneer ’n Voortrekkerbegraafplaas langs die Platrivier opgeruim sal word.

Hy verwag ook ’n opvolgbesoek van argeoloë van Pretoria om verdere ondersoek te kom doen oor ’n veldslag wat na alle waarskynlikheid tydens die Anglo Boere-oorlog in die omgewing van die dorpsdam plaasgevind het.

“Indien ons hierdie geskiedkundige plekke toeganklik kan maak en hul aansien opgradeer, kan ons dit by ons verskeidenheid van besoekplekke in die Waterberg voeg. Staptogte in die natuur is altyd gewild en dit sal ons toerismebedryf ’n hupstoot gee,” het hy gesê.

Hy beoog om drie permanente bestuurslede te betrek en die organisasie te registreer. Volgens Van Niekerk sal enige hulp met die bewaring van ons erfenis waardeer word.

“Die geskiedenisgogga het my jare gelede gebyt en ek sal aanhou my passie uitleef. Ek vertrou dat nog mense hierdie groot taak saam met ons wil aanpak.”

Van Niekerk kan bereik word by tel. 076 356 6175.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button