Local news

Ou kliniek word dalk toerismesentrum

Inwoners van Bela-Bela doen gereeld navraag oor die historiese kliniekgebou agter die Bela-Bela-munisipaliteit.

Die gebou het jare lank as kliniek van die Warmbad-staatshospitaal gedien. Die kliniek het sy deure in 2022 gesluit en is weer op die hospitaalterrein hervestig.

Die eens imposante gebou toon nou tekens van verweer en het dringend aandag nodig. Verskeie ruite is gebreek en hope vullis is nog nie opgeruim nie. Die struktuur is ook duidelik verwaarloos.

Die houthuisie wat as wagpos vir veiligheidswagte gedien het, staan windskeef en is vol rommel.

Die Pos het opgemerk dat hawelose mense onder die afdak buite die ingang slaap.

’n Woordvoerder van die departement van ekonomiese ontwikkeling het aan Die Pos vertel daar is planne om die gebou in ’n toerisme- en inligtingsentrum te omskep. Daar word ook oorweeg om sakeregistrasies vanaf die perseel te doen.

“Die opgradering sal waarskynlik as ’n spesiale projek, in samewerking met die departement en munisipaliteit, aangepak word. Ons hoop dat alle onderhandelings sal slaag en dat dit deur regeringsfondse of deur vennootskappe met die privaat sektor ’n werklikheid kan word,” het die woordvoerder gesê.

Daar is geen begroting vir so iets in die nuutste geïntegreerde ontwikkelingsplan van die munisipaliteit voorsiening gemaak nie. Die woordvoerder sê die huidige toerismesentrum by die dorp se Waterfront-gebied het tekortkominge en ’n nuwe sentrum, met die nodige hulpbronne, sal die behoefte aanvul.

“Ons vertrou die amptenary sal hierdie projek prioritiseer, want die gebied is bekend vir toerisme wat deeglik bemark moet word.”

Die rolspelers hoop om in Julie daadwerklik met die projek te begin.

Die Pos verneem dat die saak nog voor die munisipale raad moet dien vir verdere goedkeuring.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button