Local news

Glansaand by Castle de Wildt

Die gaste was op Saterdag 15 April uitgedos in hul beste vere tydens die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK)-gemeente in Mookgophong se glansaand by Castle De Wildt buite Modimolle.

Die immergewilde Juanita du Plessis en begaafde violis Evert van Niekerk het die gaste met mooi musiek betower.

“Dit is vanjaar die tweede van vele meer glansaande wat gehou sal word. Ons is so dankbaar dat dit so ’n groot sukses was,” het Floris Booysen, een van die organiseerders gesê.

Die Pos was so bevoorreg om die spoggerige geleentheid te kon bywoon.

Jan-Louis en Carinda Venter, een van die borge wat ’n vakansie geskenk het om opgeveil te word.

Soos die uitnodiging lui was dit ’n glansaand vir ’n goeie doel. Die geld wat ingesamel is, gaan onder meer na die Naboom Tehuis vir Bejaardes in Mookgophong.

Die gaste wat van heinde en ver gekom het, is getrakteer met puik musiek en kos, wat deur die Limpopo Chefs Academy voorberei is, was uit die boonste rakke. Die meer as 600 gaste het heerlik gekuier en is by die lang houttafels bedien deur die aspirantsjefs van Hoërskool Nylstroom.

Floris en Marlyn Booysen. Floris is een van die organiseerders van die suksesvolle glansaand.

Daar is ook laataand ’n veiling gehou en gebie om ’n wild- of vakansiepakket te bekom.

“Ons kan nie genoeg dankie sê vir al ons borge nie. Elkeen wat geld of produkte geskenk het, word waardeer,” het Booysen gesê.

Elke gas is ook bederf met ’n gratis foto wat deur een van die borge moontlik gemaak is.

“Met die uitstap het die sterbelaaide hemelruim, soos wat ’n mens net hier in die donkerte in die Bosveld kan beleef, ’n pragaand op ’n hoë noot afgesluit,” het Charmaine Lourens, redakteur van Die Pos, gesê.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button