Local news

Paaie bedrywig oor Paastyd

Die paaie in Die Pos se lesersgebied was die afgelope Paasnaweek weer uiters druk.

Dit was opvallend dat daar vanjaar meer voetgangers in tref-en-trapongelukke gesterf het, sê Tidimalo Chuene, provinsiale verkeerswoordvoerder.

“Die meeste noodlottige voorvalle het plaasgevind wanneer voetgangers raakgery is terwyl hulle provinsiale paaie probeer oorsteek het. Florence Radzilani, LUR van verkeer, het reeds haar kommer hieroor uitgespreek,” sê Chuene.

“Meer as 1 600 voertuie het teen Donderdagmiddag 6 April deur die Kranskop-tolhek gery. Daar was die naweek veral baie druk verkeer op die N1-snelweg, die R101-, R71-, R81-, R579- en die D4100-pad (tussen Groblersdal en Marble Hall). Die Nyl- en Kranskop-tolhekke is verskeie kere deur die naweek oopgestel om die verkeersdruk te verlig.”

Die enigste ernstige ongeluk wat in die Bela-Bela-omgewing aangemeld is, het op Woensdag 5 April op die N1 plaasgevind.

Volgens lt.kol. Annemarie Smith, Bela-Bela-speurtakhoof, het polisiebeamptes wat ’n roetine patrollie gery het, ’n beskadigde Toyota Cressida langs die N1 gewaar en ondersoek ingestel. Hul het vier beseerde insittendes aangetref en die ambulansdienste ontbied. Daar is egter nog onduidelikheid hoe die ongeluk ontstaan het en of daar ander voertuie by betrokke was. Die polisie stel ondersoek in.

“Daar was verder geen noodlottige ongelukke oor die res van die naweek in ons gebied gerapporteer nie,” sê Smith.

Die nasionale verkeersdepartement het teen druktyd nog nie die finale pad-syfers bekend gemaak nie.

Related Articles

Back to top button