Local news

Kleinskaalse kragopwekking goedgekeur

Met die groot onsekerheid oor die betroubare verskaffing van elektrisiteit oorweeg al hoe meer inwoners dit om sonkrag te installeer ondanks die hoë koste daaraan verbonde.

Die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit het tydens ’n virtuele raadsvergadering op Woensdag 29 Maart die beleid vir kleinskaalse elektrisiteitsopwekking (Small Scale Embedded Generation Application Policy) goedgekeur. Dit is die eerste stap vir inwoners om elektrisiteit terug aan die munisipaliteit te verkoop. Hierdie beleid bepaal dat installasie getoets moet word en aan verskeie regulasies moet voldoen.

Die beleid bepaal dat enige verbruiker wat aansoek doen vir kleinskaalse kragopwekking slegs op die tyd-van-verbruik tariewe vergoed sal word. Die koste van die installasie sal vir die aansoeker se rekening wees. Geen geld sal betaal word nie, maar as ’n krediet op die munisipale rekening aangedui word.

Die krediet wat opgebou word, sal slegs vir 12 maande geldig wees en die sonkragstelsel se voldoeningsertifikaat moet deur ’n geakkrediteerder persoon verskaf word.

Die munisipaliteit se voorgestelde tariewe lyk soos volg:

  • In die somermaande sal verskaffers gedurende spitstye R1,2767 per kWh vergoed word, gedurende standaardtye R0,878per kWh en buite spitstye R0,5575 per kWh.
  • In die wintermaande word verskaffers R3,9127 per kWh in spitstye vergoed, R1,1858 per kWh in standaardtye en R0,6440 per kWh in nie-spitstye.

Volgens die burgemeester, Marlene van Staden, het verskeie ondernemings, asook ’n aftreeoord wat hul eie krag opwek, reeds aangedui dat hulle belangstel om krag aan die munisipaliteit te verskaf.

Related Articles

Back to top button