Local news

Toerismebedryf glimlag weer breed

Die Waterberg-omgewing is die perfekte ligging vir besoekers van Gauteng.

Die toerismebedryf het harde klippe gekou tydens en na die Covid-19-pandemie, maar het die afgelope Paasnaweek ’n sug van verligting geslaak met talle besoekers wat die heerlike Bosveldson kom opsoek het.

Die bedryf het sedert 2020 erge finansiële verliese gely weens die Covid-19 se inperkings en die knellende ekonomie wat reisigers genoop het om met Jan Tuisbly-se-karretjie te ry. Talle mense in die toerismesektor het in die proses hul werk verloor en verskeie lodges en oorde was op die punt om hul deure permanent te sluit.

Ken Maud.

“Die meerderheid van ons lede het aangedui dat hulle die afgelope Paasnaweek volbespreek was. Dit beteken net goeie nuus vir die bedryf,” het Ken Maud, voorsitter van Waterberg Toerisme (Waterberg Tourism), by navraag gesê.

Hy sê ander faktore wat ook ’n rol gespeel het, is die volgehoue bemarking en vernuwende planne wat die oorde maak om besoekers te lok.

“Die Waterberg-omgewing is die perfekte ligging vir besoekers van Gauteng,” sê Maud. “Besoekers kom graag na ons talle familievriendelike bestemmings en eko-toerisme-oorde omdat die reiskoste aansienlik minder is as ’n vakansie by die see. Lodges en oorde het innoverend begin dink en bykomende geriewe aangebring wat die omgewing nóg meer aanloklik vir besoekers maak.”

Maud sê voorts dat die jag- en bewaringsektor ook drasties verbeter het. Oorsese besoekersgetalle en besprekings vir jagtogte neem toe.

“Die afgelope twee jaar was ongelooflik uitdagend vir die toerismebedryf. Ons is nou dankbaar vir die derduisende rande wat ons aan bemarking bestee het. Sake beweeg uiteindelik in die regte rigting.”

Waterberg Tourism het takke in Thabazimbi, Vaalwater, Modimolle en Bela-Bela en is in die proses om ’n nuwe tak in Lephalale te open.

Danie Nieuwenhuizen, eienaar van die Marula Oase-vakansieoord buite Bela-Bela, het die afgelope Paasnaweek saam met sy personeel die nuwe waterpark by die oord ingewy.

“Mense sal verbaas wees oor hoe baie aktiwiteite die Waterberg-omgewing bied. Dit is uiters belangrik dat oorde en lodges met hul gemeenskappe in kontak bly en vir plaaslike inwoners ook ’n bestemming van keuse word. Bewaring speel ’n belangrike rol en ons moet almal betrek om die Waterberg te koester.”

Adele Thys Smit van Adventures with Elephants, sê die reservaat het die afgelope Paasnaweek die meeste besoekers in twee jaar ontvang.

“Ons benodig geld om ons olifante gesond te hou en daarom is ons ongelooflik dankbaar vir almal wat hierheen kom.”

Sy sê volwassenes besoek gewoonlik plekke wat kindervriendelik is en kies aktiwiteite waarvan hul kinders sal hou.

“Dit is belangrik dat mense mooi herinneringe hier bou, want dan kan hulle aan ander vertel hoe lekker dit in die Waterberg is.”

Vir meer inligting of gebeure in die Waterberggebied besoek gerus die webtuiste, www.waterbergtourism.com

Related Articles

Back to top button