Local news

Verloren-inwoners moontlik voortaan deel van Modimolle

Die dorpgrense tussen Modimolle en Bela-Bela kan moontlik weer verander nadat die munisipale afbakeningsraad (MAR) die afgelope week die publiek genooi het om kommentaar te lewer.

Die MAR hersien dorpsgrense elke vyf jaar om te kyk of veranderings moet plaasvind. Veranderings het ’n direkte invloed op munisipaliteite se dienslewering, belastinginvordering en kiesafdelings.

Die Verloren Landgoed, tussen Modimolle en Bela-Bela, se grense word al geruime tyd ondersoek.

Die MAR het op Dinsdag 28 Maart in ’n verklaring aan Die Pos gesê die raad het landwyd 228 versoeke ontvang dat sekere dorpgrense moet skuif. Altesame 26 daarvan is in Limpopo.

Verloren het in 2008 tot stand gekom. Fred van Heerden, ontwikkelaar, het by navraag gesê alle eiendomme is sedert die ontstaan van die landgoed onder die Modimolle-munisipaliteit by die plaaslike aktekantoor geregistreer.

Dit het egter teen 2019 aan die lig gekom dat ’n gedeelte van Verloren onder die Bela-Bela-munisipaliteit val, wat beteken dat eienaars in dié gedeelte belasting aan die Bela-Bela-munisipaliteit moes betaal en nie aan Modimolle nie.

Johan Mills, Bela-Bela DA-raadslid, pas sedertdien druk toe dat uitstaande belastings aan die korrekte munisipaliteit oorbetaal moet word. Mills het herhaaldelik dié tameletjie tydens Bela-Bela-raadsvergaderings geopper en het selfs ’n mosie ingedien dat die finansiële afdeling daadwerklik begin optree.

Van Heerden het aan Die Pos gesê hy verwelkom die afbakeningsproses.

“Ek volstaan daarmee dat dit ’n oorsigfout van albei munisipaliteite was toe Verloren ontwikkel en uitgebrei is. Alle eiendomme is onder Modimolle geregistreer. Inwoners meen dat hulle onder die korrekte munisipaliteit geplaas moet word — Modimolle — want ons wil keer dat inwoners dubbele belasting betaal,” het hy gesê.

Barileng Dichabe, MAR-woordvoerder, sê beoogde grensverskuiwings waar ’n hele gebied gekonsolideer word, raak meestal nie munisipaliteite se diensleweringvermoë nie. Dit raak wel ’n gebied se kieserstal en die onafhanklike verkiesingskommissie (OVK) moet dié grense dan aanpas.

Verloren se Bela-Bela-gedeelte het in die 2021-munisipale verkiesing in Wyk 6 geval.

Kiesiers het by vier stempunte — die Openbare Werke-gebou in Van der Merwestraat, Meloding-gastehuis, Thusanang Special School en Emmerentia Geldenhuys langs die R101-pad — gestem.

Indien die grense verander, sal Verloren-inwoners waarskynlik moet herregistreer vir die 2024 nasionale verkiesing.

Belanghebbendes het tyd tot op Sondag 30 April om kommentaar aan die MAR te rig. Openbare vergaderings sal tussen Junie en Augustus plaasvind. Die MAR sal tussen November en Januarie 2024 ’n finale besluit neem.

Kommentaar kan per e-pos gestuur word na registry@demarcation.org.za, of per faks na tel. (012) 342 2480.

Dit kan ook gepos word na die MAR se posadres: Privaatsak X123, Centurion, 0046, of kan direk ingedien word by hul kantoor in Eco Origins Office Park, Blok C1, 349 Witch-Hazel Avenue, Highveld.

Related Articles

Back to top button