Local news

Swaar reën laat talle plekke onder water

Swaar reën het verlede Vrydag onverwags in die Waterberg uitgesak.

Hoewel die weervoorspelling aangedui het dat dit gaan reën, het inwoners nie die hewige bui wat geval het, verwag nie.

Die reën het kol-kol geval en daar is tussen 40 mm en 120 mm reën gemeet. Die meeste inwoners in Modimolle het in die omgewing van 90 mm gemeet met die gebied bokant die Donkerpoortdam wat volgens inwoners meer as 135 mm ontvang het.

Die Nylstroom Buiteklub, wat langs die Klein Nylrivier geleë is, was onder water.

Kyk net hoe diep is die water. JC van der Merwe sit op ’n tuinstoel by die Nylstroom Buiteklub nadat dié onderneming onder water was.

Die eienaar, Koos van der Merwe, sê dit is die vierde keer vanjaar dat dit gebeur. Vorige kere het die reën hulle gebou eers ná sowat drie ure se harde reën bereik, maar Vrydag was hulle binne ’n uur onder water. Hy dink egter dat die water nie noodwendig alles van die rivier af gekom het nie, maar ook vanaf die braksloot.

“Iets het verander sedert die nuwe laagwaterbrug gebou is, want vorige jare het dit nie gebeur nie.”

Van der Merwe het gesê hy sou Vrydag nuwe dobbelmasjiene installeer, maar dat dit nie afgelewer kon word nie weens die swaar reën.

Water het regdeur sakeondernemings en woonstelle in Joe Slovostraat gespoel.

“Dit was ’n genade, want ons hele plek was onder water.”

Winkels en ander huise langs die rivier was ook kniediep onder water. Talle van die laagwaterbrûe in die dorp was onder water, soos wat meestal tydens swaar reënbuie gebeur. Die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit het inwoners gewaarsku dat die Donkerpoort-watersuiweringswerke oorspoel het en dat dit tydelik gesluit is. Dit sou ’n invloed op watervoorsiening aan die dorp hê.

Volgens Ben Greeff van Modimolle, wat gereeld reën meet, het die dorp dié seisoen reeds 710 mm reën gekry met 121 mm wat in Oktober geval het, 75 mm in November, 191mm in Desember, 75 mm in Januarie, 149 mm in Februarie en 99 mm in Maart.

Related Articles

Back to top button