Local news

VLU-vroue skitter tydens kongres

Die Naboomspruit-tak se vroue het geskitter tydens die Soetdoringstreek se suksesvolle VLU-kongres wat op Saterdag 18 Maart by die Sondela-natuurreservaat en Spa buite Bela-Bela aangebied is.

Louise Groenewald het met al haar inskrywings ’n silwer toekenning verwerf (468 punte) en Wendy Engelbrecht (voorsitter) ’n goue toekenning (543 punte). Engelbrecht is ook as die algehele wenner aangewys met ’n totaal van 782 punte.

Om die kroon te span is die Naboomspruit-tak aangewys as die tak met die hoogste punte in die Soetdoringstreek met ’n totaal van 7 597 punte.

“Die Naboomspruit-tak is so vier jaar gelede dormant verklaar weens ’n verminderde ledetal en deelname wat afgeneem het. Die afgelope vier jaar het ons tak weer sterk gegroei. Die groepie vroue het die afgelope jaar baie nuwe vaardighede aangeleer en was baie betrokke by tak-aktiwiteite. Dit is ’n voorreg en eer om as die beste tak in die streek aangewys te word,” het Engelbrecht gesê.

VLU Noord is op 1 Oktober 1995 gestig. Net ná die ontstaan van die nuwe Suid-Afrika, het die voormalige Transvaal Vroue Landbou-unie (TVLU) besluit om te ontbondel in vier provinsiale organisasies geskoei op die grense van die ou Transvaal. Dit is hoe VLU Noord, VLU Mpumalanga, VLU Overvaal in Gauteng en VLU Noord-Wes ontstaan het.

VLU Noord bestaan uit drie streke naamlik Bosveldstreek, Koraalstreek en Soetdoringstreek. Die streke is weer onderverdeel in verskeie takke en is geaffilieer by die Suid-Afrikaanse Vroue Landbou Unie en by die Associated Country Women of the World.

Die drie streke hou jaarliks saam ’n kongres en die streke hou in Mei ’n konferensie.

Die Soetdoringstreek is op 9 April 2001 gestig en het twee kringe. Die streek se Boekenhout-kring bestaan uit die Nylstroom-, Olien Aand-, Warmbad-, Sonskyn- en Mabalingwe-tak en die Maroelakring is Aandster-, Potgietersrus-, Naboomspruit-, Vlakte- en Settlers-tak.

Die streek behandel elke jaar ’n tema, projek, ’n persoonlikheid van die jaar, asook die bome van die jaar. Elke tweede jaar word ’n skrywer en ’n kunstenaar van die jaar aangewys.

Lede neem gedurende die jaar deel aan verskeie kompetisies om lede in staat te stel om hul talente te ontdek en vaardighede aan te leer.

Vanjaar se tema is “Positiewe denke skep ’n mooi wêreld”. Die produk wat beter toegelig word is laventel en die projek is “Raak vertroud met tegnologie”. Die kunstenaar van die jaar is Marnich

Visser en die bekende Erik Holm is die persoonlikheid van die jaar. Die witolienhout en Vanwykshout is die bome van 2023.

Die tak het vanjaar drie nuwe lede en wil graag alle belangstellendes uitnooi om te kom kennis maak met hierdie gesellige en flukse klomp vroue.

Bel gerus vir Debbie Weideman by tel. 082 775 6468 en woon ’n byeenkoms by. Die vroue vergader elke tweede Dinsdag van die maand by Die Oog-aftreelandgoed se Njala-lapa.

Related Articles

Back to top button