Local news

VLU-vroue hou kongres en kuier saam

Altesaam 112 lede van die Vroue Landbou Unie (VLU) se Soetdoringstreek het Saterdag 18 Maart by Sondela-natuurreservaat en Spa buite Bela-Bela byeengekom vir hul jaarlikse kongres.

Die kongres is vanjaar deur die lede van die Warmbadtak aangebied. Die vroue het vroegoggend in die pragversierde saal saamgetrek waarna Joan Erasmus van die Potgietersrustak met skriflesing en gebed die verrigtinge geopen het. Vanjaar se tema Positiewe denke skep ’n mooi wêreld was onder die vergrootglas.

Andante Wiehan van Eskort besig met ’n interessante kosdemonstrasie.
Die vroue sit vroegoggend bankvas om die dag saam te geniet.

Die kongresgangers kon saam kyk na ’n kosdemonstrasie wat deur Eskort aangebied is. ’n Varklies (pork belly) is in ’n lugbraaier gaargemaak en die vroue kon ook kyk hoe om ’n keurige charcuterie bord (wat bestaan uit verskillende koue vleise, heerlike kase, patees, beskuitjies en vrugte) uitgepak word. Terwyl daar ná die tyd geproe is, het die vroue ’n nuttige koelhouer met ’n vleisversnaperingspak as geskenk ontvang.

Die vroue kon ná die demonstrasie smul aan die heerlike versnaperinge.

Tydens die prysuitdeling het die Naboomspruittak weggestap as wenner van die taktrofee. Die voorsitter van dié tak, Wendy Engelbrecht, is aangewys as die lid met die meeste punte op die konferensie.

Lede wat vyf, tien en 20 jaar se lidmaatskap geniet, het balkies ontvang. Van die vroue se pragtige handwerk is ook uitgestal en beoordeel.

Algehele wenners vir hul knap werk is Hanell Theron (derde), Stephanie du Plessis (tweede) en Wendy Engelbrecht (eerste).
Die onderskeie afdelings waarin handwerk beoordeel is, se wenners was (voor) Rita de Beer (eko: kleurtegniek tafeldoek), Riki Lourens (insektekening), Joan Erasmus (gehekelde badmat), en Joan Schoeman (blomme). Agter is Stephanie du Plessis (“stumpwork” borduur), Hanell Theron (preservering: kerrieboontjies), Katrien Groenewald (foto’s: tekstuur in natuur), Loesje Barnard (masjienwerk: voorskoot) en Debbie Weideman (sjokoladesplinterkoekies).
Ria Strydom, VLU Noord President (regs), oorhandig die wentak-trofee aan Wendy Engelbrecht, voorsitter van Naboomspruit-tak.

Related Articles

Back to top button