Local news

Plaaslike veiligheidsman onverwags oorlede

’n Bekende in Bela-Bela-veiligheidskringe, Bertus van Staden (52), is op Sondag 26 Maart onverwags in die Warmbad-hospitaal oorlede.

Van Staden was sedert 2018 ’n veiligheidsbeampte by PRSS-veiligheidsdienste in die dorp betrokke.

Volgens sy vrou, Nina, met wie hy 26 jaar getroud was, is hy aan natuurlike oorsake dood.

Hy is in die hospitaal opgeneem nadat hy ’n infeksie in sy ingewande opgedoen het, het sy gesê.

“Hy was my rots en my hele wêreld. Hy was ’n goeie vriend vir ander en iemand wat vriendelik teenoor sy medemens was,” het sy gesê.

Van Staden het in Bela-Bela grootgeword en sy skoolloopbane by Laerskool- en Hoërskool Warmbad voltooi.

Hy het in Rustenburg naskoolse opleiding ontvang, maar ná jare weer na sy tuisdorp teruggekeer en ’n wonderlike diens aan die gemeenskap gelewer.

Martin van Blerk, direkteur van PRSS, het Van Staden as ’n staatmaker beskryf en gesê sy dood laat ’n groot leemte.

Begrafnisreëlings was teen druktyd nog nie bekend nie.

Hy laat sy vrou, Nina, sy ma en pa Wand en Burt, sy suster Talitha van Zyl en sy aangetroude familie agter.

Die familie bedank graag die personeel van PRSS, Bafa-begrafnisdienste, dr. Gerhard Grobler en die personeel by die Warmbad-hospitaal vir hul bystand.

Nina bedank veral vir Nelmari en Rienie Smit wat haar emosioneel bygestaan het.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button