Local news

EFF loop hul rieme styf

AfriForum se buurtwag in Mookgophong het op Maandag 20 Maart, in samewerking met die polisie, Reflex Sekuriteit, Scorpion Sekuriteit, landelike veiligheid, die distrikslandbou-unie en die gemeenskap gesorg dat EFF-lede hul rieme lelik styfloop toe daar ’n landwye betoging beplan is.

Al die bande, klippe en ander materiaal wat gebruik kon word om paaie te versper, is vroegtydig verwyder en verskeie spanne was op patrollie en bystand in dié tyd.

“Die strate was doodstil en selfs die woongebied anderkant die spoor was rustig,” het een van die patrolliemanne gesê.

Die punte waar die betogers die dorp kon binnekom, is deurentyd gemoniteer en die oomblik toe die klein groepie betogers (sowat 50 mense wat meestal jong kinders was), opgedaag het, is ’n kordon van voertuie om hulle gevorm en is hulle deur die hoofstraat begelei.

Toe die betogers in 4de Straat, wat as ’n hoofroete beskou word, terugbeweeg het, was die bande wat in die veld versteek was, reeds verwyder.

Optoggangers het beoog om van daar na die sentrale sakekern te beweeg, maar was duidelik ontnugter toe hulle daar aankom en sien hoe AfriForum en ander partye al die bande en ander items verwyder het.

Verder was 4de Straat en die woonbuurt afgesper met ’n groot hoeveelheid voertuie en personeel wat daar diens gedoen het. Dit het die EFF-lede geen ander keuse gelaat as om terug te keer huis toe.

“Ons wil graag al ons lede bedank vir die groot taak wat elkeen verrig het, asook die ondersteuning wat ons ontvang het. Dit was ’n voorreg om saam met die polisie en ander rolspelers in die gemeenskap van hierdie operasie ’n groot sukses te maak. Saam is ons beslis sterker!” het David Fitzcharles, voorsitter van die AfriForum-tak, gesê.

Related Articles

Back to top button