Local news

Cyril bekyk swak Bela-Bela-pad

Daar was ’n groot geskarrel toe niemand minder nie as pres. Cyril Ramaphosa verlede week langs die pad buite Bela-Bela stilgehou het en glo navraag gedoen het oor die haglike toestand van die R516-pad vanaf die N1-snelweg na Bela-Bela.

Besoekers en inwoners kla al jare oor die talle slaggate op dié gedeelte van die R516, wat deur die Limpopo padagentskap (RAL) onderhou moet word.

’n Foto is op sosiale media gedeel waar Ramaphosa langs die pad staan en met ’n werker gesels. Dit is nie duidelik waarheen die president op pad was en waaroor hy gepraat het nie. Die Pos kon wel uit verskeie oorde bevestig kry dat die president navraag gedoen het oor die bouwerk aan die pad.

Dié slaggate het die afgelope ruk aansienlik vererger weens swaar reënneerslae en geen onderhoud. Motorryers moet behoorlik teen ’n slakkepas voortkruie om nie hul voertuie en bande te beskadig nie.

Die Pos hoor ook gereeld klagtes van mense wat sê voertuie ry in die aankomende baan of op die grondstrook langs die pad om slaggate te vermy. Dit skep ’n groot gevaar vir botsings reg van voor.

Rondlopervee en swak beligting op die roete verhoog verder die moontlikheid van botsings.

RAL-werkers is al geruime tyd besig om gedeeltes van die pad te verwyder en het al van die slaggate herstel nadat daar ’n ooreenkoms met die Bela-Bela-munisipaliteit getref is.

Die werk gebeur ongelukkig teen ’n slakkepas.

’n Woordvoerder van die Bela-Bela-munisipaliteit se plaaslike ekonomiese ontwikkelingafdeling het by navraag gesê RAL het onlangs planne bekendgemaak om ook die grondpad op pad na die skietbaan op die Alma-pad te teer. Ook hierdie pad is in ’n slegte toestand met baie slaggate.

Daar is sprake dat RAL beoog om ook die grondpad na die Elements-gholflandgoed tot by die Zebula-natuurreservaat te teer. Die Pos wag nog op bevestiging hieroor.

“Dit is goed dat RAL hierdie paaie wil opgradeer, maar omdat die R516 ’n hoofroete vir ons dorp en omgewing se toeriste is, moet hulle liefs eers op die R516 fokus. Die feit dat die president daar stilgehou het, sê reeds dat die pad dringende aandag benodig,” het die woordvoerder gesê.

RAL-verteenwoordigers en amptenare van die munisipaliteit het onlangs hul strategiese beplanningsvergadering gehou en ’n opvolgvergadering sal eersdaags plaasvind, sê die woordvoerder.

Related Articles

Back to top button