Local news

Herstel van paaie verwelkom

Paaie wat só vol slaggate was dat voertuie skaars daar kon ry, het vandeesweek ’n nuwe teer-oppervlak gekry.

Dit is tot groot vreugde van inwoners van Modimolle wat kla dat hulle voertuie beskadig word deur die swak toestand van paaie.

Die werk is gedoen deur kontrakteurs wat deur die Padagentskap van Limpopo (RAL) aangestel is. Die munisipaliteit, wat in ’n benarde finansiële posisie is, het nie geld om die paaie te herstel nie en het die padagentskap genader vir ’n oplossing vir paaie wat toenemend versleg. Die agentskap het R19 miljoen bewillig om paaie in die dorp te herstel, het die burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munispaliteit, Marlene van Staden, gesê.

Limpopostraat, wat bykans onbegaanbaar was, is een van die eerste strate wat aandag gekry het. Die nuwe laagwaterbrug is ook in hierdie straat geleë. Wanneer die pad weer in ’n goeie toestand is, bied dit motoriste ’n alternatiewe roete as die besige hoofstraat indien hulle van een kant van die dorp na die ander wil ry.

Vragmotors lewer 200 ton teer af sodat paaie in Modimolle herstel kan word.

Maroelastraat, waar slaggate plek-plek bykans kniediep was en inwoners en sakelui reeds duisende rande bestee het om dit probeer herstel, se oppervlak is ook oorgedoen.

Van die ander strate wat op die lys is, sluit in die besige Joe Slovostraat wat die hoofroete na Phagameng-township is, asook Chris Hani-, Sediba-, Kekana- en Collinsstraat. Daar sal ook strate in Mookgophong, Vaalwater en ’n kruising in Roedtan geteer word.

Die paaie se oppervlakte word verwyder en dan word ’n nuwe teerblad gegooi. Dit is dus nie net slaggate wat herstel word nie.

Volgens Van Staden het die munisipale bestuurder, Ben Thobela, op Maandag 27 Maart met die padagentskap vergader om te hoor of die bedrag verhoog kan word sodat meer strate herstel kan word.

“Ons is baie dankbaar vir die moeite wat Thobela doen om ons munisipaliteit se probleme aan te spreek. Sy kundigheid en ervaring is van groot waarde. Met hierdie R19 miljoen bykomende hulp, is elke sent van sy salaris die moeite werd,” het Van Staden gesê.

Teen Maandagoggend het daar reeds 200 ton van die 300 ton teer aangekom. Die herstelwerk sou aanvanklik twee maande duur, maar volgens die kontrakteur, Jacob Masha van Bohlabatsatsi Trading and Projects, het die padagentskap versoek dat dit binne ’n maand afgehandel moet wees.

Die herstelwerk is voorafgegaan deur ’n deeglike ondersoek van die toestand van die paaie en watter die meeste verkeer dra.

Related Articles

Back to top button