Local news

‘Oom Pikkie’ se bekende bestuurskool sluit

Talle inwoners van Bela-Bela dink met nostalgie aan Pikkie Pienaar se bekende wit Toyota Tazz waarmee hulle of hul kinders geleer bestuur het.

“Oom Pikkie, wat tevrede (of ontevrede!) staan en toekyk hoe ’n student sy of haar driepuntdraaie in daardie voertuig oefen, is legendaries in die dorp.

Pikkie (77) is egter genoop om ná 13 jaar as bestuursinstrukteur sy wit Tazz met die K53 Driving School-letters teen die deure finaal te groet en die ryskool te sluit.

Hy het onlangs ’n groot operasie ondergaan waartydens sy een been geamputeer is.

“Hy is ’n tipe 1-diabeet met perifere vaskulêre siekte. Van sy regtervoet se tone moes in 2016 geamputeer word weens die siekte,” het sy vrou Elize die afgelope week aan Die Pos vertel.

Daar het ongelukkig sewe jaar later komplikasies ingetree en dokters het die afgelope week geen ander keuse gehad as om sy been net onder die knie te amputeer nie.

Pikkie was teen druktyd steeds in die Montamed-herstelsentrum in Pretoria waar hy aansterk ná die operasie. Elize sê die operasie was ’n sukses en sy kan nie wag dat hy huiswaarts keer nie.

Pikkie het in Kaapstad en die Vrystaat as verkeersbeampte gewerk, maar het in 1988 na Bela-Bela verhuis. Hy was vyf jaar lank die verkeershoof in Bela-Bela voordat hy afgetree het, vertel Elize.
In Bela-Bela was hy ’n stigterslid van die Lions Club en het etlike jare as president gedien. Dié klub, wat hoofsaaklik gemeenskapopheffingswerk gedoen het, het ’n paar jaar gelede ontbind.

Hy was ook geen vreemdeling by die ATKV Waterberg-kunstefees nie en was jare lank voorsitter.

Hy was ook by die Bikers that Care-organisasie betrokke en het baie suksesvolle Nappy Rallies vir Huis Talje help reël.

Hy was ook betrokke by die bekende Toy Run saam met ander motorfietsklubs wat vir minderbevoorregte kinders in die omgewing geskenke gebring het.

Pikkie was altyd beskikbaar om as veiligheidsbeampte by fietswedrenne op te tree.

Nog ’n stokperdjie is sy voorliefde vir veteraanvoertuie. Hy was op sy gelukkigste as hy tussen die statige ou voertuie van weleer kon loop en het selfs ’n veteraanvoertuigskou in Bela-Bela aangebied.

“Vir eers wil hy net rustig wees, herstel en steeds help met die reëlings van ’n volgende veteraanvoertuigskou in Bela-Bela. Hy sal egter nie meer as bestuursinstrukteur beskikbaar wees nie. Indien daar iemand is wat belangstel om ’n bestuurskool te begin of op die bestaande een voort te bou, is hulle meer as welkom om dit te doen,” sê Elize.

“Ek wil graag my hartlike dank oordra aan die gemeentes van verskillende kerke in ons dorp wat voortdurend vir ons gebid het. Dankie ook aan inwoners wat gereeld navraag gedoen het en beterskapwense gestuur het. Ook aan elke kind wat hom in sy onderneming ondersteun het. Dit was voorwaar vir hom ’n voorreg om hulle te leer om reg te bestuur.”

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button