Local news

Sonkragstelsel besorg inwoner van Kokanje grys hare

Derduisende rande later het ’n afgetrede inwoner van Modimolle se sonkragstelsel nie gewerk nie en toerusting het aan die brand geslaan.

Hy waarsku inwoners om deeglike navorsing te doen voordat hulle ’n installeerder kies om hul sonkragstelsel te installeer. Die Pos het in Vrydag 17 Maart se uitgawe berig oor die vereistes waaraan ’n installeerder moet voldoen.

Die inwoner van Kokanje-aftreeoord buite Modimolle verkies om anoniem te bly. Hy was glo nie die enigste persoon wat deurgeloop het onder die brouwerk van hierdie spesifieke installeerder nie.

Sy storie het begin met ’n aanbeveling van ’n vriend en ’n baie billike kwotasie van R69 000 vir ’n 5kVA-stelsel wat onder andere agt sonpanele, ’n wisselrigter (inverter) en ’n 4.8 kHa-battery insluit. Volgens die kwotasie is daar tien jaar waarborge op die panele, wisselrigter en battery. Die stelsel is in 2020 geïnstalleer.

Die aftreeoord het streng regulasies vir installering van sonkragpanele vir veiligheid en dit is aan die installeerder deurgegee.

“Inwoners moet ’n elektriese sertifikaat kan inhandig by die bestuur. Dit is die eerste ding wat ek die installeerder gevra het: kan hy dit aan my verskaf?” het die inwoner gesê.

Maande later moes hy egter ’n ander elektrisiën betaal om ’n sertifikaat uit te reik. Die vriend wat hom na die installeerder verwys het, se stelsel het intussen ook probleme begin gee.

“Ek het eendag geruik dat iets brand. Ek het ondersoek ingestel en die wisselrigter van die stelsel het aan die brand geslaan. Dit is net ’n genade dat ek by die huis was!” het hy ontstoke gesê.

Hy moes R15 000 betaal sodat ’n elektrisiën die foute kan herstel om ’n sertifikaat uit te reik.

Van die probleme wat deur die elektrisiën uitgewys is, is dat die drade nie meganies beskerm was nie, daar was nie ’n stroombreker in die toevoer na die omsetter nie (soos wat daar in die SANS-kode vereis word), stringe is nie met sekerings van mekaar geskei nie en panele was nie gegrond met ’n aarddraad nie, daar was nie ’n stuwingsafleier in panele se kragtoevoer nie, asook nie lugvloei onder die panele vir optimale werking nie. Dit het die inwoner ’n verdere R36 000 uit die sak gejaag en hy moes ’n nuwe battery aanskaf.

Volgens die inwoner was die installeerder baie onbeskof toe hy van die probleme in kennis gestel is. Hy het via die inwoner se prokureur laat weet dat sy onderneming se deure gesluit is en hy hom nie vir die skade kan vergoed nie.

“My prokureur het ondersoek ingestel na die maatskappy en die registrasienommers, wat my verder bekommer het.”

Die inwoner het ook sy vermoedens gehad dat die toerusting tweedehands was. Hy het ’n saak teen die installeerder aanhangig gemaak. Die polisie het dit na die hof verwys wat bevind het dat daar nie ’n redelike vooruitsig van suksesvolle vervolging is nie.

Anina Pretorius, die bemarkingsbestuurder van Kokanje, het bevestig dat daar sedertdien baie streng regulasies in plek gestel is.

“Inwoners moet gebruik maak van een van ons goedgekeurde kontrakteurs ter wille van veiligheid asook vir versekeringsdoeleindes.” “Ek is een van die gelukkiges wat wel my sonkragstelsel kon vervang. Daar is baie mense daarbuite wat hul geld kwyt is. Dit betaal om deeglike huiswerk te doen en handelsname wat bekend is vir hul kwaliteit te gebruik,” waarsku die ontnugterde inwoner.

Related Articles

Back to top button