Local news

Parmantige klein buksies help fluks

Drie groen tuk-tuks sal binnekort te sien wees in Vaalwater, Modimolle en Mookgophong, waar dit deel vorm van die vloot voertuie wat vullisverwydering doen.

Dié voertuie is deel van ’n skenking van die nasionale departement van omgewingsake aan die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit. Hulle het ook kruiwaens, grawe en spitvurke, swart plastieksakke en skoonmaakmiddels ontvang.

Hierdie klein driewielvoertuie sal volgens Marlene van Staden, burgemeester, aangewend word om kleiner werkies te verrig wat vullisverwydering betref soos wanneer plastieksakke opgelaai word, die dorp se ingange opgeruim word en in dele wat moeilik toeganklik is vir die groter vullistrokke.

Die munisipaliteit sukkel maande lank reeds met vullisverwyderingsvoertuie wat buite werking is. Dit veroorsaak dat vullis nie elke week opgelaai kan word nie.

Die nuwe stortingsterrein sal na verwagting binnekort open. Hierdie terrein, wat geleë is in die Drie Hekke-omgewing naby die hoewes, maak ook voorsiening vir die herwinning van vullis.

“Ek hoop ons volgende aflewering sal die vulliskompakteringstrokke wees,” het Van Staden gesê.

Related Articles

Back to top button