Local news

Opgee nie deel van dié juwelier se goue plan

Die meeste inwoners van Mookgophong ken vir Marius Barnes (55) as ’n motorwag wat in die parkeerterrein voor SPAR in die dorp werk, maar daar skuil veel meer agter dié vriendelike en hulpvaardige man.

Barnes was ’n voltydse goudsmid van beroep en het selfs opleiding vir voornemende goudsmede gegee, maar die lewe het hom ’n paar klappe toegedien. Hy was vir agt maande sonder werk en het letterlik twee weke op straat gesit toe hy genoop was om te begin werk as ’n motorwag.

Barnes vertel hy het dorpe platgeloop om werk te soek.

“Dit het my baie geleer, soos om nederig te wees, dankie te sê en ander te help. Ek was voorheen ’n arrogante mens,” het hy vertel.

Hy is ook nie skaam om te erken dat hy ’n gerehabiliteerde alkoholis is nie.

Nadat sy lewensmaat, Magda, sewe jaar gelede oorlede is, het hy besluit om deeltyds as goudsmid te werk en hy het sy motorwag-fooitjies begin spaar.

Hy vertel hy het in 14 jaar genoeg geld bymekaar gemaak om weer toerusting te koop om juwele te maak. Hy het begin om goud op te koop en deesdae is hy weer ’n deeltydse goudsmid.

“Baie van die gereedskap wat ek gebruik, het ek self gemaak, want ek weet wat nodig is en wat elkeen se gebruik is,” het hy trots aan Die Pos vertel.

“Ek het by meesters geleer om ’n goudsmid te wees en het vir groot juweliersmaatskappye gewerk en selfs opleiding gegee,” vertel Barnes. Sy pa, Tienie Barnes, was ’n diamantslyper en het die Diamant Akademie in Suid-Afrika begin.

Barnes vertel hy is in 2022 met sy vrou, Elaine, getroud en hy is opgewonde om binnekort vir die eerste keer pa te word.

Hy en Elaine het verlede jaar ’n klein vertrekkie waar hulle woon ingerig om sy eerste studente op te lei.

“In die eerste deel van die sillabus word ’n troupand, armband, kruisie en ’n muntraam uit silwer ontwerp. Alles begin by die smelt van die silwer totdat die eindproduk voltooi is.”

Barnes het tans plek vir twee studente op ’n keer en deel graag sy kennis — nie net oor juwele maak nie, maar ook oor die lewe.

“Jy moet positief dink en positiewe dinge oor jou lewe uitspreek.”

Sy lewensfilosofie is: Waar ’n wil is, is ’n weg. The power of positive confession is baie kragtig, sê hy.

Hy spog met ’n indrukwekkende CV wat ’n BA-graad in teologie insluit. Hy het verskeie sporttoekennings op skool verwerf waaronder deelname aan die Cravenweek en die hou van die Suid-Afrikaanse rekord in skyfwerp vanaf 1982 tot 1985. Hy het ook waterpolo vir Suid-Transvaal gespeel en muurbal vir Transvaal en was ’n ywerige krieketspeler en stoeier.

Sy droom is om ’n volwaardige skool vir goudsmede op die been te bring.

Related Articles

Back to top button