Local news

Waterberg se stories vasgelê in boek

Die inwoners van die Negester-leefstylland-goed buite Bela-Bela het verlede week se boekbekendstelling van Richard Wadley se “Waterberg Ways” terdeë geniet.

Die boek is deur Wadley saamgestel nadat sy omvattende “Waterberg Echoes” oor die Waterberg se geskiedenis wat in 2019 die lig gesien het.

“Daar was soveel goeie stories wat ons tydens ons navorsing teëgekom het. Ek wou dit graag skryf sodat dit nie verlore gaan nie,” het hy gesê.

Van die oord se inwoners het ook hul staaltjies van die omgewing tot groot vermaak van die gaste vertel.

“In die loop van ons navorsing het ek wonderlike verhale teëgekom, onder meer skrywes van die Afrikaanse skrywer P.G Hendriks. Hy het so mooi geskryf oor “Die plaas anderkant die berge”.

Ek het geweet dat dit die skuilnaam was vir Pieter Pistorius en dat hy êrens in die omgewing tussen Bela-Bela en Loubad grootgeword het,” het Wadley vertel.

Hierdie boek was in 1990 op die kortlys vir die Ou Mutual-prys en is ook benoem vir die Rapportprys. Dit is ’n bundel met kontreivertellings van Pistorius se terugkeer na sy familieplaas in die Waterberg wat hy van sy pa geërf het.

“Ek was eendag saam met ’n vriend in daardie omgewing en het vir een van die boere gevra of hy dalk weet van Pistoriuse wat in die omgewing gewoon het. Sy antwoord was ja, dit is sy bure!”

Wadley het kontak gemaak met Pistorius se seun, wat geesdriftig was dat sy pa se verhale weer gedruk word. Hy het met die uitgewers van die vorige boeke gereël dat Wadley dit weer kan uitgee. Pistorius, wat verskeie fiksie en nie-fiksie boeke onder skuilname geskryf het, is in 1997 oorlede.

Wadley se vrou, Lyn, ’n argeoloog, werk tans aan ’n boek oor Boesmantekeninge in die Waterberg.

Related Articles

Back to top button