Local news

Simposium kyk na plaaslike veiligheid

Met toenemende kommer oor veiligheid, stabiliteit van die kragnetwerk en voedselsekerheid, is dit nodig vir gemeenskappe om hulself voor te berei om probleme wat opduik te hanteer.

Die Waterberg Sakekamer, in samewerking met Sakeliga, bied van 30 Maart tot 1 April ’n landelike veiligheidsimposium in Modimolle aan. Oud-genl. Roland de Vries en verskeie kundiges soos die politieke wetenskaplike prof. André Duvenhage en afgevaardigdes van AfriForum en die polisie, neem die leiding.

Die oogmerk van die simposium is om plaaslike gemeenskappe te help om hul bestaande hulpbronne te identifiseer en veiligheidstrukture in plek te kry. Die doel is om onnodige duplisering te voorkom.

Volgens Jacques Swanepoel, ’n ervare logistieke bestuurder wat as die fasiliteerder optree, sal daar gefokus word op veiligheid en beskerming, die beskikbaarheid en verspreiding van water, voedsel, mediese sorg en brandstof.

De Vries het as adjunkhoof van die Suid-Afrikaanse leër onder oudpres. Nelson Mandela in 1999 afgetree. Hy het ’n militêre agtergrond van operasionele ontplooiing en militêre strategieë waarvan sy boeke internasionale erkenning geniet en bestudeer word. Hy en sy kollegas is jare lank al betrokke by plaaslike gemeenskappe om hulle aan te moedig om veiligheidsteunkringe te vorm om groter samewerking en harmonie tussen verskillende kulture binne gemeenskappe, die polisie en privaat sekuriteitsfirmas te bewerkstellig.

Hulle het verskeie suksesse behaal en kon ’n groot rol gespeel om ongeveer ’n duisend ton noodvoedsel tydens die onluste in Julie 2021 in Kwazulu-Natal te versprei en vrede en orde te help herstel.

Volgens die sakekamer word die moontlikheid van ’n algehele ineenstorting van Eskom se kragnetwerk ’n al hoe groter werklikheid. Sakeliga en ander prominente sakelui in Suid-Afrika waarsku die afgelope tyd gereeld hierteen. Hulle het wesenlike kommer dat anargie kan uitbreek indien so iets gebeur en gemeenskappe wat nie voorbereid is nie, sal die hardste getref word.

Die sakekamer het aangedui dat Afriforum ’n groot rol in staatkundige selfbestuur speel.

“Mense moet deeglik kennis neem dat hierdie inisiatief niks met weerstand of konfrontasie te doen het nie. Konfrontasie met misdadige elemente en openbare opstokers moet sover as moontlik vermy word aangesien dit die uitsluitlike taak en mandaat van die polisie en ander veiligheidsassosiasies is om wet en orde te handhaaf. Ons het geen nasionale agenda nie en behoort ook aan geen politieke groepering nie. Ons bied ons hulp en kundigheid gratis aan gemeenskappe aan wat ons nader,” het Swanepoel gesê.

Inwoners kan die symposium gratis bywoon en verteenwoordigers in die hele Waterberg is genooi. Swanepoel doen ’n beroep op die publiek om die simposium by te woon.

Die volledige program van die simposium word op sosiale media versprei.


Vir enige navrae bel vir Maggie Grobler, sekretaresse van die sakekamer, by tel. 072 633 3958 of stuur e-pos na info@waterbergsake.co.za(.)

Related Articles

Back to top button