Local news

Hou kop met sonkragveiligheid en versekering

Die gelukkige Suid-Afrikaners wat die onbetroubare Eskom-krag verruil het vir sonkrag, moet in gedagte hou dat hul toerusting weerbaar is en beskadig kan word.

Santam-versekering het by navraag aan Die Pos inligting verskaf wat eienaars in gedagte moet hou wanneer hulle sonkragstelsels teen enige verlies wil dek.


Hoewel daar onderskeid getref word tussen kommersiële- en residensiële eiendomme, is die inligting wat Santam verskaf het van toepassing op albei:

Installasie aan ’n gebou:

Die sonkragstelsel vorm deel van die gebou en word onder die kliënt se geboue-versekering gedek. Daar is egter ’n verskil in die dekking teen brandskade, asook die gebou se dekking in geheel. Kliënte moet uitvra oor die verskil in brandskade-dekking teenoor gekombineerde gebou-dekking.

Installasie weg van ’n gebou:

Die aansoeker neem nuwe dekking uit op die stelsel en nie onder geboue-versekeringdekking nie.

Detail word in ag geneem of die stelsel op ’n deel van die gebou, wat buite die versekeringskriteria val, gemonteer of geïnstalleer word. Kabels na die gebou word nie gedek onder die hoofstroomtoevoerlyn-gedeelte nie, tensy dit onder die bestaande dekking gespesifiseer of afsonderlik teen diefstal verseker is.

Batterye en wisselrigters (inverters):

Indien dit binne ’n gebou geïnstalleer en aan die hoofstroomkragtoevoer gekoppel is, is algemene geboue-versekering van krag. Indien dit buite die gebou is moet bykomende versekering daarvoor uitgeneem word.

Kommersiële eiendomme:

Dek die stelsel onder die sakeonderneming se alle risiko’s-opsie. ’n Volledige beskrywing van elke komponent waaruit die stelsel bestaan, word uiteengesit tydens die aansoekproses.

Akkreditasie:

Die kliënt moet by hul installeerder aandring op ’n voldoeningsertifikaat (COC) wanneer sonkragstelsels aan die hoofkragtoevoer gekoppel is. Die kwotasie sal die versekeraar inlig van elke presiese stelsel-komponent waarna die kliënt advies sal kry oor watter dekking uitgeneem moet word.

Veiligheid:

Die versekeraar sal vrae oor veiligheid vra soos: Is daar omheining, alarmstelsels of ’n wag aan diens? Die versekeraar sal daarna bepaal hoe die dekking omskryf moet word.

Related Articles

Back to top button