Local news

Groot slag toe trok seekoei tref

’n Ongewone ongeluk het verlede week net buite Vaalwater plaas gevind toe ’n groot vragmotor ’n seekoei getref het.

Die ongeluk het op Maandagaand 6 Maart by Wolwespruit op die R33-roete plaasgevind.

“Toe ek op die ongeluk afkom, het ’n seekoei aan die een kant van die pad gelê en ’n groot vragmotor op sy dak aan die ander kant. Ek is nie seker hoe gou ná die ongeluk mense op die toneel was nie,” het ’n inwoner gesê. Dit wil voorkom asof die seekoei op slag dood is.

Kapt. Tiaan Keyter, stasiekommissaris van die Vaalwater-polisie, het gesê die bestuurder van die vragmotor was vasgekeer en daar is ure lank gespook om hom uit die wrak te bevry. Hy is met geringe beserings in die hospitaal opgeneem.

’n Vragmotor het ’n seekoei net buite Vaalwater doodgery. Die bestuurder, wat glo ure lank in die wrak vasgekeer was, is met ligte beserings in die hospitaal opgeneem. Dit wil voorkom asof die seekoei op slag dood is. Foto’s: Verskaf

“Motorbestuurders moet wakker wees as hulle snags in dié omgewing bestuur. Ek het self al ’n noue ontkoming met ’n seekoei naby Taaibosspruit gehad,” het hy gesê.

Die Mokolorivier en sy sytakke loop deur die omgewing en daar is heelwat plaasdamme. Die ongeluk het sowat 400 m van die plaas waar Hannelie Oelofse woon gebeur.

“Die arme seekoei is net ná die driffie raakgery. Sy was blykbaar ’n skelm besoeker vanaf plase aan die oorkant van die pad en het deur die rivier gekom, verby ’n aangrensende plaas tot in ons dam,” het sy gesê.

Inwoners van die omgewing is dit eens dat ’n seekoei nie gestuit word deur ’n wildsdraad nie en moeilik binnegehou word.

Related Articles

Back to top button