Local news

Argeoloë fynkam Bela-Bela

Bela-Bela het ’n ryk historiese geskiedenis wat gereeld geskiedkundiges na die dorp lok.

Bela-Bela en die gebeure rondom die Anglo Boere-oorlog (1899-1902) was die afgelope week onder die soeklig nadat argeoloë van Pretoria die omgewing besoek het.

Johan van Niekerk, stigter van die Bela-Bela Heritage-organisasie, het op Vrydag 10 Maart die omgewing saam met drs. Xander en Annie Antonite gefynkam.

Xander is verbonde aan die Universiteit van Pretoria (Tuks) en Annie werk by die Ditsong Nasionale Museum (voorheen die Transvaalse-museum).

Dié waarskynlike plek vanwaar die Boere op die Engelse soldate losgebrand het nadat die Engelse in ’n lokval gelei is. ’n Baie ou
katjiepieringboom en ’n stapel klippe word daar aangetref.

Van Niekerk se navorsing het getoon dat ’n groot veldslag tussen die Engelse- en Boeremagte in die omgewing van die ou Warmbad-dam en die Fish Eagle Bay-dam se sluise plaasgevind het. Albei damme is eers ná 1950 gebou.

“Met die inval van die Engelse magte in 1900 in die ou Warmbad-omgewing het talle Boere in die klowe skuiling gesoek. Engelse troepe het hulle agternagesit, maar is in ’n lokval gelei,” het Van Niekerk vertel.

Die Antonite-egpaar het ’n murasie naby die Alma-pad besoek om te kyk of dit van geskiedkundige waarde is.

Die moontlikheid bestaan dat dit ’n hut was wat rondom 1850 gebou is en as woning of afsetpunt vir handel vir ’n inheemse bevolkingsgroep gedien het, het Xander gesê.

“Ons soek eers vir goed soos potskerwe wat op die oppervlak sigbaar is. Dit gee ons ’n idee uit watter tydperk die murasie se oorsprong is,” het hy gesê.

Die murasie is volgens hom die mees waarskynlike punt waar die Boere- en Engelse-soldate beweeg het.

Van Niekerk het op nog ’n waarskynlike punt van belang sowat 300 m van Fish Eagle Bay-dam se sluise afgekom. Die plek is bo-op ’n koppie en is moontlik die plek van waar die Boere op die Engelse losgebrand het.

’n Stapel klippe wat vermoedelik deur die Boere in ’n sirkel vir skuiling teen geweerskote gepak is, is daar te sien. ’n Ou katjiepieringboom met ’n dik bas wat uitkyk oor die vallei is ook daar te sien.

“Die Boere moes die oorhand by hierdie slagveld gehad het en baie Engelse is in die proses gewond of doodgeskiet. Daar was Australiërs en Tasmaniërs onder die Engelse troepe.”

Hoewel daar niks op die grondoppervlak gevind is nie, was die kenners tevrede met die moontlikheid dat daar wel geskiedkundige gebeure in die omgewing plaasgevind het.

“Ons sal nou ou lugfoto’s bestudeer. Eers dan kan ’n opvolgbesoek plaasvind en daarna kan studente met uitgrawings begin,” het Xander gesê.

Volgens Van Niekerk is hy baie opgewonde oor die besoek en hoop hy dat enige geskiedkundige oorblyfsels wat in die omgewing gevind word, geleenthede in toerisme kan bevorder.

Related Articles

Back to top button