Local news

Gee ons (son)krag!

Sonkrag is op almal se lippe noudat dit blyk dat beurtkrag nie gou iets van die verlede gaan wees nie.

Sakelui en groot organisasies gaan ter wille van oorlewing en vooruitgang die groot uitgawe aan om sonkragstelsels te installeer. Huishoudings maak, waar moontlik, ook die skuif, maar almal kan egter nie hierdie peperduur uitleg bekostig nie.

Wat hierdie situasie vererger is dat Die Pos verneem dat verskeie inwoners regsaksie teen installeerders begin het omdat hul duur stelsels nie na wense werk nie.

Talle sakelui het aangedui dat hoewel hulle sonkrag installeer, hulle nie die batterypakke kan bekostig wat hulle sal vrystel van beurtkrag nie. Die installasies dien om koste te bespaar.

Sakelui met slim kragplanne: Charmaine Lourens (redakteur van Die Pos), Wiets Botes (DA-raadslid, Modimolle), Anton du Plessis (skoolhoof, Hoërskool Nylstroom), Roelf Vorster (skoolhoof, Laerskool Nylstroom), Drummond Hammond (Bosveld Diesel), Fernando Goncalves (Pavecon) en Gerhard Breytenbach (Breytenbach en Keulder Ing.).

Die nasionale tesourie het in Februarie nuwe aansporings aangekondig om verbruikers aan te moedig om die skuif na sonkrag te maak.

Die minister van finansies, Enoch Gondongwana, het aangekondig dat individue ’n korting van 25% op hul belasting kan eis vir die installasie van sonpanele tot R15 000 per individu.

Volgens die tesourie kan ondernemings 100% van die koste van installasies kleiner as een megawatt binne ’n jaar terugeis. Ontwikkelaars en sakelui wat belê in sonkragstelsels wat meer as een megawatt krag lewer, kan dié beleggings oor ’n tydperk van een tot drie jaar terugeis met 50% se koste wat in die eerste jaar verhaal word, 30% in die tweede jaar en 20% in die derde jaar.

Hierdie vergunning is slegs vir beleggings in kwalifiserende alternatiewe kragbronne soos sonkrag, wind- en hidrokrag. Hierdie aansporings is net vir ’n jaar geldig.

Related Articles

Back to top button