Local news

Die Pos-redakteur kuier saam met VLU-vroue

Waar daar ’n wil is, is daar ’n weg, is die leuse waarmee Die Pos se redakteur, Charmaine Lourens, die vroue van die Vroue Landbou-unie se Warmbad-tak aangemoedig het om nie hul talente onder die maatemmer weg te steek nie.

Charmaine het die vroue toegespreek oor Die Pos se ontstaan en ook vertel van haar interessante loopbaan in die joernalistiek. Die vroue het aan haar lippe gehang toe sy vertel van haar omswerwinge en wedervaringe wat insluit ontmoetings met kontroversiële mense soos die befaamde Guptas en ander politici.

Sy is sedert September verlede jaar deel van Die Pos- familie en vertel sy is gelukkig in die mooi Bosveldse dorpie. Die Pos het in 1982 die lig gesien met Eugene en Nicola Diener as stigterslede.

Dit is ironies dat die koerant se eerste berig oor ’n watertekort was.

Charmaine Lourens, redakteur van Die Pos.

“Die ou dorpsdam was amper leeg en waterbeperkings is toe ingestel. Vandag is water steeds op die voorgrond. Ons krane is die meeste van die tyd droog weens al die beurtkrag,” het sy gesê.

Charmaine het die vroue aangemoedig om die koerant te koop aangesien ’n gedeelte van elke R8 wat lesers betaal, na Die Pos se kinderfonds gaan. Die kinderfonds lê haar na aan die hart. Sy het vertel dat die fonds vanjaar reeds R6 000 se skryfbehoeftes vir Laerskool Warmbad gekoop het en ook R2 500 aan Hoërskool Warmbad geskenk het om tien leerders te borg wat betrokke is by die jaarlikse Bosveld Interhoër.

Ná haar praatjie het Rina Steynberg die beker vir die Vonkelvrou van die jaar ontvang. Sy het die meeste punte vir kompetisie-artikels in dié tak behaal. Die bekwame Michelle Lewis het met ’n demonstrasie gewys hoe om ’n “kantagtige” trui te brei.

Riana Werner en Nettie Calitz het die vroue geleer om hul eie lugverfrisser van laventel te maak. Elkeen kon self die bestanddele in hul spuitbotteltjies meng en die lugverfrisser huis toe neem.

Related Articles

Back to top button