Local news

Verhoogde lone knou sakelui, boere

Die nuwe minimumloon wat verlede week aangekondig is, beteken ietwat voller beursies vir sommiges en platter beursies vir ander.

Die regering het ’n 9,6%-verhoging toegeken wat vanaf 1 Maart in werking tree. Die minimumloon verhoog van R23,18 na R25,42 per uur. Dit geld vir alle werknemers, huishulpe en tuiniers ingesluit. Dit sluit nie toelaes vir vervoer, kos en toerusting in nie.

In praktyk beteken dit dat iemand wat agt ure per dag vir 20 dae per maand werk, nou R358,40 meer per maand in hul sak sal steek. ’n Werker wat een dag per week werk, sal R71,68 meer per maand verdien.

Aan die ander kant sal ondernemings of boere met 15 werkers wat agt ure per dag werk, se salarisrekening met R5 376 per maand toeneem.

Verskeie sektore regoor die land het hul misnoeë uitgespreek dat die minimumloon ’n tendens toon om aansienlik hoër as inflasiekoers (6,9% in Januarie) te styg wat groot druk op werkgewers plaas. In ’n bose kringloop word werkgewers gedwing om hierdie koste te verhaal in die produk of diens wat hulle verskaf, wat op sy beurt weer lewenskostes verhoog.

Sakelui:

’n Sakeman van Modimolle wat meer as 30 werknemers in diens het, sê hy sal noodgedwonge van sy werkers uit diens moet stel nadat die minimumloon vir die eerste keer ingestel is. Hy sê behalwe vir die verhoogde minimumloon, dwing die voortslepende kragkrisis en stygende brandstofpryse hom om hierdie drastiese stap te neem. Hy verkies om anoniem te bly.

“Ek kan nie bekostig om my mense ’n verhoging te gee nie. Ons produksie is reeds minder weens die kragkrisis. As ek geld gehad het, het ek gemeganiseer, maar dit vererger net die bose kringloop van werkloosheid,” het hy gesê.

“Met ’n laer salaris kan die mense darem nog kos op die tafel sit. Nou sal baie van hulle sonder enige inkomste wees. Dit is ’n baie groot probleem.”

Landbou:

Die effek wat die loonverhogings op die landbou-sektor het, is verreikend. Floris Booysen, voorsitter van die Potgietersrus DLU sê die landbousektor het die meeste werkers in diens. Boere het egter ’n uitdagende tyd met insetkoste wat dramaties gestyg het, asook hoër brandstofpryse en die oorlog in Oekraïne wat kunsmispryse die hoogte in gedwing het. Gifpryse is op en die prys van elektrisiteit het aansienlik gestyg. Beurtkrag het ’n impak op hul produksie.

Volgens Booysen moet boere wat aangeplante weiding besproei, kragopwekkers inspan. Die uitgawes het ’n kettingreaksie op pryse. Beurtkrag beteken dat besproeiingstyd beperk is. Verwerkingsaanlegte vir byvoorbeeld katoen en sonneblomolie staan stil tydens beurtkrag en die produk wat in produksie is, gaan meestal verlore.

“Groot ondernemings trek ook swaar. Een van die maniere waarop hulle bykomende uitgawes kan verhaal, is deur vir die boer laer pryse aan te bied. Die boere vat die eerste hou.”

Huishulpe:

Van die huishulpe in Modimolle waarmee Die Pos gepraat het, het gesê die verhoging is ’n lewensboei. Die Pos het gevra watter uitgawes hulle die meeste knou. Taxi-kostes is na verneem word ongeveer R30 vanaf Phagameng tot in die woonbuurt — dus R60 per dag. Dit kos R10 per enkelrit vanaf Phagameng dorp toe vir inkopies. Van die werkers het gesê die kliniek wys hulle dikwels weg omdat daar nie medikasie beskikbaar is nie en hulle moet dan by privaat dokters aanklop wat ongeveer R400 per konsultasie kos. Stygende kospryse het ’n groot effek en vleis is nie meer daagliks op die spyskaart nie, maar word vervang met tamaties en kool.

Related Articles

Back to top button