Local news

Toring van Babel uit Bela-Bela-man se towerpen

Die droogte van die 1960’s was ’n geskiedkundige tydperk in Suid-Afrika.

“Die jaar is 1966 en die land beleef een van die ergste droogtes in sy geskiedenis. Só droog was dit dat die hoeveelheid groen gras in die veld nie eens ’n hoed kon vol maak nie. Die besluit word geneem om die beeste dadelik te skuif …”

Só begin die lewensverhaal van die Bela-Bela-inwoner André Zeeman, wat sy lewensverhaal in boekvorm vasgevang het onder die titel: Die Toring van Babel.

Die droogte van die 1960’s was ’n geskiedkundige tydperk in Suid-Afrika. Die destydse regering het ingegryp om te keer dat die landboubedryf nie ondergaan nie, vertel Zeeman aan Die Pos.

André Zeeman van Bela-Bela het sy lewensverhaal — Die Toring van Babel — in boekvorm uitgebring. Die portret agter hom in die foto is van sy familieplaas in die Maasstroom-distrik waar die verhaal begin het.

“My motivering spruit uit die Bybelse storie van Babel. Niemand kon mekaar meer verstaan nie en stories en ervarings het verlore gegaan. Ek is ’n doodgewone mens, maar het my eie storie om te vertel en kennis om te deel.”

Pionier-veeboere soos die Zeemans moes self soek vir groener weivelde om te oorleef.

Zeeman was ’n jong man van 24 en het op sy pa, Basie, se aandrang op hul plaas buite Maasstroom help boer.

“My pa was ’n stoere boer, bekend onder die werkers as Rapata (die man met die kierie), omdat hy altyd met ’n kierie gestap het. Hy was lief vir sy beeste, maar moes toekyk hoe die beeste vrek van die honger. Danksy ’n toegif van ’n welaf oom en ’n geleentheid om uit die droogteknyp te kom, het ek en my pa, met ons werkers, die groot taak aangepak om ons oorblywende beeste sowat 500 km per trein na Phalaborwa te vervoer,” vertel hy.

Die avontuur het daar begin. Zeeman vertel van die maande wat hul langs die Olifantsrivier in ’n tent gewoon het. Die omgewing was toe nog ongetem.

“Ons het gevlug vir die droogte, maar die ellende en swaarkry het gebly.”

Staaltjies van die lewe langs ’n seeikoeigat, die mikstertbyevanger wat klanke naboots, ’n bad in die rivier vol krokodille, heuning, kreatiwiteit vir bykosse, ’n R20 rifrug-boerboel-kruising genaamd Jambres en die terugkeer na ’n dorre wêreld hou die leser vasgevang.

Hy sê hoewel boere normaalweg reënval verwelkom, bring die vloedwaters van somerdonderstorms sy eie ellende.

“Die verhaal is relevant omdat boere steeds die natuur in ag moet neem. As jy die natuur ignoreer, wag verdriet op jou. Moenie die natuur misbruik nie.”

Zeeman is ’n afgetrede instrumentwerktuigkundige van die Yskor-myngroep wat bygedra het tot die totstandkoming van die Grootte Geluk-myn in Lephalale. Hy is ’n trotse lid van Klub 60 in Bela-Bela. Sy boek is tans beskikbaar by PNA.

Related Articles

Back to top button