Local news

Rus sag, ou grote

Dit was met ’n groot slag dat ’n eeueoue maroelaboom op ’n plaas buite Modimolle omgeval het.

Dié boom se ouderdom word deur die Dendrologiese-vereniging van die dorp tussen 300 en 400 jaar oud geskat, het Ina Lessing aan Die Pos gesê.

“Ons het groot geskrik toe die boom met ’n verskriklike lawaai omval,” het sy vertel.

Die enorme boom staan reg langs hul huis op hul plaas op die Donkerpoortpad. Die Lessings woon reeds 25 jaar onder die skadu van dié boomreus.

“In die tyd toe die boom nog vrugte gedra het, het ons baie maroelajellie van sy vrugte gekook,” het dié konfytkoningin vertel. Lessing se konfyte is landwyd beskikbaar.

“Wanneer die boom se vrugte op die plaashuis se dak geval het, het dit soos donderslae geklink,” het sy gesê.

Haar seun, Natan, het groot werk om die boom te verwyder.

“Sy arms is al lam gewerk om die groot stompe te verwyder. Die stam se omtrek is 4 m.”

Maroelabome kan honderde jare oud word en hierdie Bosveldreuse, wat tot 18 m hoog word, is diep verweef met die geskiedenis van die mense in die land. Dit kom wyd voor — vanaf Ethiopië tot in KwaZulu-Natal, volgens die Suid-Afrikaanse Instituut vir Biodiversiteit.

Die regering het in 1941 wetgewing ingestel om die bome te bewaar omdat hout tekorte tydens die Tweede Wêreldoorlog ’n groot vermindering in die aantal maroe-
labome veroorsaak het.

Nie net is die maroelaboom een van die boomspesies in Suid-Afrika wat die vinnigste groei nie, dit is ook droogtebestand en kan meer as een meter per jaar groei.

Eeue lank is hierdie boom ’n staatmaker vir mens en dier. Nie net maak die soetsuur-vrug die bekende romerige drankie Amarula nie, maar die vrug, asook die neut, bevat baie minerale en vitamienes.

Die boom is ook handig in die maak van tradisionele medisyne. Die boom se bas, wat fyngedruk word en dan met koue water gemeng word, word gebruik as ’n middel teen diarree en disentrie. Dit word ook gebruik as ’n middel teen malaria.

Die boom se stam word gebruik om ’n ligte bruin kleursel te maak. Die hout is sag en word gebruik in kerfwerk. Die skilletjies van die vrugte kan gekook word as ’n drankie of gerootster word om as ’n plaasvervanger vir koffie te gebruik. Die olie wat uit die sade gepers word, word in die kosmetiese bedryf gebruik. Die boom se blare word gekou om sooibrand te verlig en die stam bevat antihistamiene.

Inderdaad ’n staatmaker!

Related Articles

Back to top button