Local news

Bosveldsig-forum het ’n regrukplan

Inwoners van die Bosveldsig-aftreeoord in Modimolle het besluit om nie die agteruitgang weens swak dienslewering om hul komplekse net gelate te aanvaar nie.

Inwoners en sakelui van die winkelsentrum langs die kompleks het ’n forum gestig.

Volgens die voorsitter, Piet Pretorius, is hul oogmerk die opgradering en verbetering van die gemeenskaplike omgewing om die fases van die ontwikkeling. Dit sluit in die herstel en onderhoud van sypaadjies, die herstel van slaggate in die toegangsroetes, oprigting van naamborde en herstel van straatligte.

Bosveldsig het ’n gewilde aftreebestemming geword. Daar is net meer as 400 huise en tussen 700 en 800 inwoners. Die huise en tuine in die fases is baie netjies. Van die inwoners het ook ’n tuin ontwikkel buite die fases se grensmure waar dit teen die veld grens. Dit lyk soos ’n park en is ’n gewilde roete onder stappers.

“Die inwoners het verlede jaar reeds begin om Maroelastraat en Hans Campherweg se slaggate met die hulp van Megs-internetdiensverskaffer te herstel. Ons het besluit dat ons ’n meer volhoubare plan in plek sal moet stel,” het Pretorius gesê.

Lede van die forum gee elke maand ’n klein bedrag geld wat gebruik word om instandhoudingswerk om die fases te doen. Daar is verlede jaar meer as ’n R100 000 bestee om die beskadigde Maroelastraat, waar slaggate plek-plek amper kniediep was, te herstel.

Pretorius het gesê inwoners van Swartwitpens- en Nyalastraat, wat dieselfde toegangsroetes as Bosveldsig-inwoners gebruik, is welkom om ook by te dra.

“Ons het reeds met Marlene van Staden, burgemeester, en Wiets Botes, wyksraadslid, vergader om ons planne te bespreek. Daar is sekere instandhoudingswerk wat inwoners nie mag of kan doen nie en ons moet met die munisipaliteit skakel. Ons kan ’n gloeilamp koop vir ’n gebreekte straatlig, maar hulle sal dit moet installeer.”

Die forum het vandeesweek weer slaggate in Maroelaweg herstel. Megs het arbeid verskaf, die ontwikkelaar van Bosveldsig, Leon Baard, het gereedskap voorsien en die forum het die bitumen en teer gekoop.

“Veiligheid is ’n groot prioriteit. Die lang gras in die oop erwe agter die AP Kerk hou ’n veiligheidsgevaar in. Ons sal eersdaags met die polisie en veiligheidsdienste vergader oor hoe ons veiligheid in die omgewing kan verbeter,” het hy gesê.

“Dit maak nie sin om aan te hou om hier en daar dinge te herstel nie. Ons het besluit om die forum te stig sodat ons ’n volhoubare plan het.”

Die Bosveldsigforum bestaan uit Piet Pretorius, Marnus Cilliers (ondervoorsitter), Anton Roux (sekretaris) en Connie Vermeulen (tesourier) en vier addisionele lede.


Só maak jy ’n slaggat reg

Herstelde slaggate spoel dikwels ná die eerste bui reën oop.

Werkers wat saam met die nuutgestigte Bosveldsig-forum die slaggate in Maroela- en Hans Campherstraat herstel, vertel hoe hulle te werk gaan om die herstelwerk se lewensduur te verleng. Die gate wat hul verlede jaar herstel het, is steeds dig toe.

  1. Slaan die slaggat se rante met ’n yster totdat dit kliphard is. Dit is belangrik dat alle bros rante afgeslaan is. Die gate kan ook in ’n vierkant gesny word indien ’n snymasjien beskikbaar is. Maak die gat deeglik skoon en vee alle los sand uit.
  2. Gooi ’n waterbasis bitumen oor die oppervlak van die slaggat. Maak seker daar is ook bitumen op die rante van die teer sodat dit met die grond kan bind. Los totdat dit taai word.
  3. Die sakke teer kan van vroegoggend af in die son gepak word sodat dit warm word en makliker is om mee te werk. Gooi teer in die slaggat met meer teer op die rante van die gat. Maak seker dit word baie goed in die gat ingewerk. Die teer kan gegooi word sodat dit ’n effense boggel vorm om mettertyd gelyk vas te trap.
  4. Stamp dit deeglik vas.
  5. Verf ’n oliebasis bitumen oor die teer. Maak seker dat veral die rante sorgvuldig geverf word sodat daar nie water kan inlek nie. ’n Oliebasis bitumen bind nie met die grond nie. Ná ’n paar uur kan daar oor die herstelde gate gery word.

Related Articles

Back to top button