Local news

Slang maak homself tuis in wasmasjien

Meryl Duvenage van Bela-Bela het haar op Donderdagoggend 23 Februarie boeglam geskrik toe sy haar wasmasjien se deksel oplig en ’n slang in die oë kyk.

Sy en haar man woon die afgelope jaar in die huis in Van der Merwestraat.

“Ons het al tevore slange agter ons huis en buite in die straat gevind, maar dit is beslis die eerste keer dat ons ’n slang in ’n wasmasjien gesien het.”

Die wasmasjien staan buite die huis. Die slang is gevang en in die veld oorkant die huis vrygelaat. Hulle is nie seker watter soort slang dit was nie.

Theunis Victor, slangvanger van Modimolle, sê slange skuil dikwels in wasmasjiene en tuimeldroërs. Hulle lê graag in donker plekke wat vogtig is.

“Hulle skrik vir beweging, soos vir ’n mens of hond en vlug na die naaste skuilplek. Ek het al baie slange uit hierdie soort masjiene gehaal en hulle hervestig,” sê hy. “Enige huishoudelike apparaat wat buite staan, kan muise en paddas lok. Sodra hulle ingetrek het, lok hul teenwoordigheid slange, want slange is altyd op soek na kos. Paartyd is ook in die somermaande. As ’n erf genoeg prooi het om te vang en veilige skuilplek bied, sal jy slange daar aantref.”

Hy sê daar is nie werklik ’n afweermiddel wat slange van persele af hou nie.

“Sorg net dat jou erf altyd netjies is, want as daar geen voedsel of skuilplek vir hulle is nie, sal hulle verby hou en elders ’n heenkome soek.”

Vir hulp kan mense Victor bereik by tel. 082 823 6910.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button