Local news

Gemeenskap spring in en maak Modimolle-parkie mooi

Die “speel” was die afgelope jare maar min in die speelparkie in Boshoffstraat, Modimolle.

Ná ’n spanpoging verlede week deur radelose inwoners, roep die glyplanke en swaaie kinders weer nader om na hartelus te speel, klouter en swaai.

Dié parkie, geleë in die middel van ’n woonbuurt waar baie gesinne woon, se gras is gedurende die somermaande maar selde gesny en was baie lank. Die speelgoed is verniel en die area om die betonsitbankies is besaai met glasstukke, ou kos, papiere en plastiek.

’n Hek wat oopstaan gee voertuie toegang tot die parkie en volgens inwoners ry jolige partygangers oor naweke tussen die speeltoerusting deur. Dit veroorsaak dat dit nie ’n veilige plek is vir kinders wat wil speel nie.

Talle inwoners het hulp verleen om die Boshoffstraatparkie netjies te maak. Sommiges het gras en takke gesny en ander het skenkings van kos, koeldrank, brandstof, bossiekappers of kontant gemaak.

Die projek om die parkie na sy ou glorie te herstel, is aangepak deur Aksie Opknap. Hulle is ’n groep inwoners wat die aansig van die dorp verbeter en poog om gemeenskaplike omgewings netjies te hou.

Die Koinonia-gemeente, wat langs die parkie geleë is en betrokke was by die dag, het die parkie “aangeneem” en probeer die groot, oop stuk netjies hou.

Die Evangelies Gereformeerde Kerk en die Fokus Deo-gemeente help ook om parke in die dorp netjies te hou.

Volgens Derrick Rabie van Aksie Opknap het talle mense op Vrydag 24 Februarie opgedaag om hul hulp aan te bied.

“Dit maak ’n mens se hart warm dat so baie mense bereid is om te help. ’n Afgetredene het met swartsakke opgedaag en die gemors in die parkie opgetel. Nuwe intrekkers van Mabopane het vroegoggend kom vra hoe hulle kan help. Sommige mense het eet- en drinkgoed aangery, ekstra handearbeid verskaf, brandstof en bossiekappers gebring of kontantskenkings gemaak.”

Daar is ook werk gemaak van die slaggate in die pad langs die parkie.

“Dit was ’n uitputtende dag, maar die gees en energie van die mense was onbeskryflik. Mense wat verby gery het, het gegroet en ’n mens kon sien hulle was dankbaar,” het Rabie gesê.

Die span beplan om die ingange na die parkie toe te maak sodat voertuie nie vrye toegang daartoe het nie.

“Ons wil ’n kamera oprig wat die parkie veiliger sal hou,” het hy gesê.

Die groep beplan om die projek volhoubaar te maak en die gras gedurende die somer elke tweede week te sny. Inwoners wat bydraes wil maak om die parkie in stand te hou, kan een van die volgende nommers skakel: 083 658 0986, 079 480 7993 of 082 348 6925 .

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button