Local news

Kragprobleme ruk sakelui se sakke

Bela-Bela se inwoners gaan gebuk onder Eskom se landwye drakoniese beurtkragskedules én kabelfoute wat daartoe bygedra het dat groot dele van die dorp die afgelope week vir drie dae nie krag gehad het nie.

Dit het tegniese spanne dae geneem om kabelfoute op die kragnetwerk op te spoor en te herstel.

Inwoners en sakeondernemings het groot skade gely met die gebrekkige kragvoorsiening.

Paul Smith van die Belabiz-sakekamer in Bela-Bela het aan Die Pos vertel groot ondernemings wat hoë-kapasiteit kragopwekkers gebruik, moes deurentyd diesel koop wat ’n groot koste-
implikasie het.

“Die onbeplande dae lange onderbrekings knou ons sakemense en hulle kan nie so voortgaan nie, het hy gesê.

“Die finansiële uitleg van byvoorbeeld ’n restaurant wat met alternatiewe energie bedryf word, is baie hoog en nie altyd lonend nie. Ander kleiner sakeondernemings sluit hul deure vir die dag wanneer daar nie krag is nie of as beurtkrag intree en inkomste gaan verlore. Dit kan nie weer ingehaal word nie.”

Hy het gesê verlede naweek se onbeplande kragonderbreking het almal onkant gevang en baie handelsure het in die slag gebly.

“Mense koop kragopwekkers om voorbereid te wees vir die gewone twee ure beurtkrag per dag, maar wanneer Eskom die beurtkragfases verhoog of die munisipaliteit se kragnetwerk in duie stort, is dit nie ekonomies volhoubaar om ’n kragopwekker te gebruik nie. Hoe kan ondernemings wat produkte soos vleis of suiwel moet vars hou, sonder krag funksioneer? Wat is die bykomende koste wanneer kragopwekkers heeltyd aangeskakel bly?”

Smith het gesê dit is nou die tyd vir sakelui om saam te staan.

“Meer lede wat by ’n sakekamer inskakel, beteken ’n groter invloed op die plaaslike owerhede, want dan word toenemende druk vir die onderhoud op infrastruktuur en die uitbou van ons dorp toegepas.”

Smith reken elke nuwe lid bring nuwe kennis, dienste en oplossings vir probleme.

“Die sakekamer wil nie die werk van die munisipaliteit doen nie, maar eerder die munisipale amptenare ondersteun of die nodige druk uitoefen om die dorp reg te bestuur.”

Navrae in verband met Belabiz, wat by die Waterberg-sakekamer geaffilieer is, kan gerig word aan Maggie Grobler, Waterberg-sakekamer se sekretaresse, by tel. 072 633 3958 of skakel tel. 062 943 1858.

E-pos-navrae kan gestuur word na info@waterbergsake.co.za(.)

Related Articles

Back to top button