Local news

Jong boer wys sy wen-kiekies

Die jongboer, Gerdehann Pienaar (25), van die Roedtan-omgewing is nie net ’n dinamiese boer nie, maar ook ’n kranige fotograaf.

Hierdie pragfoto van Gerdehann Pienaar pryk op die voorblad van die nuutste uitgawe van die Landbouweek-blad.

Pienaar het in 2016 die Landbouweekblad se Landbou.com- fotokompetisie gewen. Die prys was dat die foto op die voorblad van die tydskrif sou wees en een van sy foto’s is nou weer op die nuutste uitgawe van die gewilde tydskrif te sien.

Die Pos het met hom gesels oor hoe sy passie vir fotografie en boerdery bymekaar uitgekom het.

“My liefde vir fotografie het ontstaan toe ek op my selfoon begin foto’s neem het. Ek het eendag op ’n video afgekom van sterre-fotografie en dit het dadelik my aandag getrek. Ek het vir my net daar en dan ’n doelwit gestel om in die toekoms ook sulke soort foto’s te neem,” het hy met groot entoesiasme vertel.

Gerdehann Pienaar, ’n jong boer van Roedtan is ook tuis agter sy kamera se lens.

Dit het hom drie jaar met baie oefening en navorsing geneem om sy foto’s op die standaard te kry waar hy dit graag wou hê.

Hy het van die Landbouweekblad se kompetisie te hore gekom en besluit om een van sy foto’s in te skryf.

“Tot my verbasing het ek ’n e-pos ontvang met die goeie nuus dat ek die kompetisie gewen het. Ek is steeds in verbinding met die redakteurs van die tydskrif; dus vra hulle soms vir foto’s wat hulle wil gebruik. Die nuutste foto is een van ’n stroper wat koring stroop en dit was op die voorblad van die 26 Januarie 2023-uitgawe,” het hy gesê.

Die wenfoto was van twee John Deere-trekkers nadat die dagtaak afgehandel is. Hy het die lig binne-in die trekkers gebruik om dit uniek te maak.

Pienaar het in 2015 aan Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong gematrikuleer en het saam met sy pa, Janlo Pienaar, en sy oupa Gert Pienaar, op die plaas Haardekraal naby Roedtan begin boer. Hulle boer steeds daar met wild, graan en vee. Sy oupa het die plaas in 1957 gekoop en as jong man opgebou.

Hy het aan Die Pos vertel sy fotografie gaan beslis nie agterweë bly nie. Hy wil sommer nog baie foto’s neem.

Related Articles

Back to top button