Local news

Nagmerrie nadat fondue- potjie tydens ete vlamvat

Drie inwoners van Bela-Bela het op Saterdagaand 18 Februarie by ’n privaat woning in die dorp brandwonde opgedoen nadat vlambare vloeistof tydens ’n fondue-ete aan die brand geraak en op die gaste beland het.

Leshia en haar dogter, Chineque van Zyl, is beseer in die voorval. Nog ’n gas, wat verkies het om anoniem te bly, het brandwonde opgedoen.

Fondue-etes word as gesellige geleenthede beskou waar kos in ’n potjie met warm olie gaar gemaak word. Die kosstukkies soos vleis of groente word met ’n dunvurkie in die warm olie geplaas.

Andy Gill van Life24-ambulansdienste het aan Die Pos gesê hul mediese span is kort ná Saterdag se dorpsrugbywedstryd, waar hulle diens gedoen het, na die huis ontbied vir mediese hulp.

Leshia het brandwonde aan haar gesig, nek en arms opgedoen. Chineque se arm is volgens Gill beseer. Die derde persoon het ligte beserings opgedoen.

Leshia is na die Unitas-hospitaal vir behandeling geneem en ondergaan sedert Saterdag verskeie veloorplantingsoperasies, het haar man, Dries, by navraag gesê.

Die gelvloeistof waarmee een van die oliepotjies aan die brand gehou is, het vermoedelik vlamgevat toe een van die gaste nóg vloeistof in die brandertjie wou gooi.

“Dit was skrikwekkend hoe ’n enkele vlam die vloeistof aangesteek het. Binne enkele sekondes het my gesinslede ernstige brandwonde opgedoen,” het Dries gesê.

“Dit was ’n blote ongeluk. Ongelukke kan enige tyd gebeur. Ek dank net die liewe Vader dat almal leef.”

Chineque sterk reeds tuis aan. Leshia was teen druktyd steeds in die hospitaal.

Dries het vertel hoewel sy vrou emosioneel sterk is, sal die pad na herstel nie sonder uitdagings wees nie. Hy het gesê sy is in goeie hande by die hospitaal en hy hoop sy word gou ontslaan.

Hy is dankbaar teenoor almal wat hulle sedert die voorval bemoedig het.

  • Gill se raad indien iemand deur vlambare vloeistof gebrand word, is om die wond dadelik vir ongeveer 20 minute onder koue water te hou.Moet onder geen omstandigheid die blase wat deur die brandskade veroorsaak is, stukkend vryf of met steriele verbande beskadig nie.

    Dit is belangrik om so gou moontlik mediese hulp te kry.

Related Articles

Back to top button