Local news

Modi-inwoners sê: ‘Ons doen dit sélf!’

Die mildelike reën wat die afgelope paar weke geval het, het twee minder aangename gevolge: ’n groot toename in slaggate en sypaadjies waar die gras welig groei.

Die toestand van paaie in Modimolle sien jammerlik daar uit, met slaggate wat dit bykans onmoontlik maak om in sommige strate te ry. Dienslewering wat die sny van sypaadjies en herstel van slaggate betref, is swak. Tog is daar groot dele in die woonbuurte wat goed versorg is en waar die slaggate opgevul is sodat voertuie daar kan ry. Dit is te danke aan inwoners en organisasies wat inspring om self die werk gedoen te kry.

Die Pos het verlede week op twee inwoners afgekom wat nie die swak toestande in hul onmiddellike omgewings duld nie.

Kobus Pienaar, ’n inwoner van Emmastraat in Modimolle, maak slaggate in die aangrensende Gholfstraat reg.

Kobus Pienaar het vroegoggend slaggate in Gholfstraat opgevul met ’n kruiwa gelaai met sakke teer, ’n graaf, ’n besem en ’n kompakteerder.

“Ek kan nie net sê omdat ek al my belasting betaal, hoef ek nie die gate op te vul nie. Hierdie probleem gaan nie weg nie en ons almal ry die heeltyd deur die slaggate.”

Inwoners van Emmastraat, wat uit Gholfstraat loop, het saamgewerk sodat al die slaggate in hul straat met teer opgevul kan word. Hulle maak ook nou van die gate in Gholfstraat reg. Dit is veral die kruising met De Beerstraat wat moeilik rybaar is.

“Dit kos sowat R100 vir ’n sakkie teer by ’n hardeware-winkel. Ons maak die gate eers heeltemal skoon met die graaf en besem waarna ons dit met teer vul en kompakteer,” het hy verduidelik.

Skaars 100 m verder was ds. Andrew Bruyns van die Evangelies Gereformeerde Kerk met sy grassnyer besig om Gholfstraat se breë sypaadjies te sny. Die gras het voorheen skouerhoogte gestaan.

“Ons was bekommerd oor die veiligheidsgevaar wat hoë gras en bosse inhou. Enigiemand kon hier wegkruip,” het hy gesê.

Tydens ons geselsie hou ’n nuwe intrekker langs hom stil en bedank hom vir sy harde werk en opoffering.

Gholfstraat is ’n toegangsroete vir baie inwoners na ’n groot deel van die woonbuurt. Diegene wat wil bydra om die slaggate te herstel, kan vir Pienaar bel by tel. 072 654 0274. Hulle kan kontantskenkings maak of ’n sak teer skenk. Daar word boek gehou van alle skenkings.

Related Articles

Back to top button