Local news

Verlore diamant onverwags gevind

Dit is min dat ’n lastige klippie wat onderaan ’n skoensool vassit, soveel opwinding kan veroorsaak.

Dié klippie wat onderaan ’n kliënt by die Sanlam-kantoor in Modimolle se skoen vasgeklou het, was die diamant wat ’n jaar en half vantevore uit Ria Abrie (77) se trouring geval het.

“My hart was baie seer toe ek kort nadat ek eendag weg is by die Sanlam-kantoor, besef het die diamant het uit my trouring geval. Ek was baie lief vir my man, wat 16 jaar gelede oorlede is, en het groot waarde aan die ring geheg.”

Abrie het dadelik haar dogter, Alberta van Jaarsveld, gebel om te kom help soek.

“Ons is al terug op my spoor en het veral die grasperk en voetpaadjie by die kantoor deeglik deursoek.”

Daar was egter die volgende 18 maande geen teken van die steentjie nie; al het hulle herhaaldelik weer die gebied gaan fynkam. Die kantoorpersoneel, skoonmakers en tuinier was almal op die uitkyk vir die diamant.

Dit was tot ’n kliënt vroeër vanjaar gebuk het om die klippie wat aan sy skoensool vassit uit te haal — stomverbaas oor sy vonds. “Die personeel by Sanlam het dadelik presies geweet waar daardie klippie vandaan kom en het my gebel. Ek was so bitter dankbaar.

“My dogter, Kobie Abrie, wat in die Kaap woon, sou die ring erf. Ek het dit toe maar so sonder die steentjie vir haar gegee en gesê sy moet vir haar ’n ander ring daarvan laat maak. As ek weer gaan kuier, kry sy die steentjie ook!”

Dat die episode by Sanlam se kantoor afgespeel het, was vir haar ’n riem onder die hart. Hulle lewens was nou verweef met Sanlam nadat haar man 30 jaar lank die bestuurder in Modimolle was.

“Ek het ’n lewensles hieruit geleer. ’n Mens moet nie ná net ’n kort rukkie moed opgee en ophou bid nie. Die Here het sy eie tyd. Ons kan Hom nie aanjaag nie.”

Related Articles

Back to top button