Local news

Om te loop in die voetspore van die apostels

Die Pos het met ’n bekende in sendingkringe gesels oor waarom sendingwerk vandag steeds relevant is.

Haar naam word weerhou omdat sy sendingwerk in dele van die wêreld doen waar Christene vervolg word. In dele van die Midde-Ooste en Asië is daar kulturele weerstand en word dit as ’n risiko beskou om daar sendingwerk te doen.

“Sendingwerk het nie ’n presiese resep wat die sukses daarvan bepaal nie. Jy is heeltemal afhanklik van die Here in elke situasie — of dit nou gevaarlik raak, of wanneer dinge wonderbaarlik gebeur,” vertel dié inwoner van Bela-Bela in ’n onderhoud. “Ek laat mense verstaan dat ek niks van hulle terug verwag nie. Hulle moet weet daar is iemand wat hulle onvoorwaardelik lief het, want almal het sulke aanvaarding nodig.”

Sy vertel die wêreld het gedurende die Covid-19-pandemie weggebreek van die tradisionele manier hoe sendelinge uitreikwerk gedoen het.

“Zoom-vergaderings en sosiale media het die norm geword en baie verkies om op hierdie manier te werk. Ongelukkig kan die internet nie werklik verhoudings met mense bewerkstellig nie. Soos Paulus gesê het: Jy moet soos hulle word om by hulle in te pas.”

Aan die begin van haar eie sendingreis was haar eerste ervaring bittersoet.

“In die Afrikaanse kultuur is ons geneig om te glo dat ons van beter weet. Ons wil ander voorskryf en toepas wat vir ons geleer is. Jy plant jou voete in woestyngrond en jou selfvertroue wankel omdat jy jou op onbekende terrein begeef,” vertel sy.

“Baie mense is nie noodwendig avontuurlustig nie en het ’n vrees vir die onbekende. Mense verkies soms om by Bybelverspreiding betrokke te raak, pleks daarvan om met mense self te werk. Bybelverspreiding is nie minder belangrik as sendingwerk nie; dit is wel belangrik om te weet waar jy inpas.”

Dit help om by ’n gevestigde sending-organisasie in te skakel en daar ondersteuning te ontvang.

Sy stel ook voor dat voornemende sendelinge eerlik met hul lewensmaats moet wees oor hul passie vir sendingwerk en dat albei by projekte of idees betrokke sal wees.

“Dit is nie vir almal beskore om voltyds sendingwerk te doen nie, maar daar is baie geleenthede waar mense deeltyds by uitreikaksies betrokke kan raak.”

Sy sê mense moet vooraf mooi huiswerk doen oor moontlike gevare in die plekke waarheen hulle reis.

“Leer meer oor die bevolking, kultuurgroep en gebruike.”

Volgens haar kan selfs ’n samedromming gevaarlik wees en moet sendelinge soms doelbewus meer subtiel wees wanneer hulle die Woord in ander lande verkondig.

“Daar is teenstand in sommige oorsese lande, maar soms ook in ons eie land. Mense het hul menings oor sekere bevolkingsgroepe en kan dit nie aldag aanvaar dat iemand hulle wil help nie. Dit is ’n wonderlike werk om te doen, maar jy moet bepaal wie jou motiveer eerder as wie jou kritiseer.”

“Daar is wel situasies waar ’n mens geheimsinnig binne die sendingwerk moet optree, maar daar is geen veiliger plek as om onder die dekmantel van die Here se wil te beweeg nie. Ek ignoreer nie die feit dat mense hul lewens kan verloor terwyl hulle sendingwerk doen nie. Daar is baie slegte ervarings wat ’n mens kan beleef.”

Haar raad aan voornemende sendelinge is om elke stap wat hulle neem ’n gebedsaak te maak.

“Die Woord sê ons moet uitgaan en dissipels van alle volke maak. As dit vir jou bestem is, gaan neem deel aan ’n uitreikaskie en kyk waar jy inpas.”

Related Articles

Back to top button