Local news

Laslappiewerk smee vriendskapsbande

Met die intrapslag, nog voordat ’n mens kan groet, vang die bont blokkies teen die muur jou oog.

Jy weet naderhand nie waar om te kyk nie, want oral is die mooiste kleurvolle en kreatiewe patrone.

Quilters Joy in Modimolle is ’n bymekaarkomplek vir vroue wat lief is vir naaldwerk en wie se hande jeuk wanneer hulle die vrolike, ingevoerde lap op die rakke sien. Die groot werkstafel verwelkom elkeen wat instap met haar stukkie handewerk en Retha Stegmann en Marlene Smit, eienaars van die winkel, staan reg om hulle met raad te bedien.

Hulle het hierdie winkel bykans 10 jaar gelede geopen en sedertdien het dit meer as net ’n bymekaarkomplek vir mense wat ’n stokperdjie deel, geword.

“Die vroue wat saam om hierdie tafel kom sit en werk, vorm hegte vriendskappe,” vertel Retha. “Die kwiltwerk is amper soos terapie — net goedkoper en meer pret.”

Die mooi lappe wat in netjiese vierkante op die rakke gerangskik is, is 100% katoen wat ingevoer word. Daar is ’n menigte kleure en patrone om van te kies. Dié lappies word in klein blokkies of ander patrone gesny en met presiese beplanning en fyn handewerk in die gekose kleurkombinasies vasgewerk.

“Ek glo elke vrou het haar kleure. Ek kies altyd die koel kleure soos blou terwyl Marlene sterk kleurkkombinasies met rooi of helder kleure verkies. So is dit ook met elke kliënt wat hier instap — sekere lap vang dadelik hul oog.”

Die winkel het wyd aandag getrek en kwilters van so ver as Pretoria en Botswana klop hier aan vir lesse of om materiaal te koop.

“Ek en Marlene se ‘hobby’ het ons ‘jobby’ geword. Ons is mal daaroor,” sê Retha. Albei van hulle hou daarvan om rond te reis en los mekaar al om die beurt by die winkel af.
“Die meeste mense wat dié stokperdjie aanpak, het met iemand gesels wat dit reeds doen en het nuuskierig geraak om dit self te probeer. Die laslappie-gilde in Polokwane is baie groot en ek het baie interessante tegnieke daar geleer. Laslappiewerk is verslawend, maar dit is beslis een van die beter dinge om verslaaf aan te wees!”

’n Mens kan goed glo dat die genoegdoening groot is wanneer daardie stuk werk, wat dikwels maande of jare geneem het, uiteindelik teen die muur hang of as beddeken oopgegooi word. Dit is ’n mooi wat die oog lank vashou.

Die winkel is in Kerkstraat 105 geleë en die deure sluit daagliks om 12:00.

Related Articles

Back to top button