Local news

Inwoners frons oor Bospoort-sandmyn

Inwoners van Bela-Bela is reeds geruime tyd ongelukkig oor die sandmyn wat in die Bospoort-omgewing bedryf word.

Hoewel die eienaar na verneem word aangesê is om werksaamhede te staak, het inwoners al hoe meer bedrywigheid en groot vragmotors in die omgewing opgemerk. Beswaarde inwoners het aan Die Pos gesê paaie word nie onderhou nie en is bykans onbegaanbaar vir inwoners omdat swaar vragmotors die padoppervlak beskadig.

Die Pos het reeds in Augustus 2022 berig oor die plaaslike munisipaliteit wat gereageer het op toenemende klagtes van inwoners en daarna die terrein besoek het. JeeDee Cloete, VF Plus-raadslid, het die afvaardiging vergesel. Die grondeienaar kon glo nie tydens die besoek permitte toon wat hom magtiging gee om in die omgewing vir sand te myn nie.

Die Pos het kort daarna ’n advertensie van die betrokke aansoeker, Build Now Sands and Depot, gepubliseer vir die wettige totstandkoming van die myn. Die publiek het tyd tot einde September gehad om kommentaar hierop te lewer. Die maatskappy het ook gaan kers opgesteek by die departement van minerale hulpbronne en energie.

Hoewel die amptenare die ontwikkelaar volgens Cloete gewaarsku het om bedrywighede te staak, is daar toenemende klagtes dat dit nie die geval is nie.

Cloete het gesê die munisipaliteit het hom intussen tot die hooggeregshof in Polokwane gewend om die mynaktiwiteite onwettig te laat verklaar.

Hy het gesê die munisipaliteit wag nog vir die uitspraak.

Die Pos het navrae aan die nasionale vervolgingsgesag (NVG) gestuur. Die NVG het teen druktyd nie op navrae gereageer nie.

Related Articles

Back to top button