Local news

Hospitaal in Bela-Bela onder water nadat groot reën val

Die Warmbad-hospitaal in Bela-Bela was onder water nadat buitengewone hoë reënval oor die dorp uitgesak het.

Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) word die hoë reënval toegeskryf aan ’n laagdrukstelsel wat in Mosambiek ontstaan het. Nog swaar reën word vir hierdie week in groot dele van die land voorspel.

In die Bela-Bela-omgewing is meer as 150 mm teen Maandag 13 Februarie aangeteken. Dit het tot gevolg gehad dat van die strate soos riviere gelyk het.

Die stormwaterdreineringstelsel, wat volgens die hospitaalbestuur nie gereeld skoongemaak word nie, kon nie die groot volumes water wegvoer nie.

Die hospitaal was op Dinsdag 7 Februarie en Woensdag 8 Februarie onder water.

Bhuti Moagi, waarnemende hoofuitvoerende beampte by die hospitaal, het aan Die Pos gesê die vloedwater het ’n gedeelte van hul administratiewe geboue oorstroom. Dit het nie die afdeling waar pasiënte gehuisves word, geraak nie. Die water het teen Donderdag weggesyfer.

“Die Bela-Bela-munisipaliteit hou nie die stormwaterstelsel voor ons hoofingang in stand nie. Dit lei daartoe dat ons perseel telkemale tydens donderstorms oorstroom,” het Moagi gesê.

Die Pos het Peter Moloto, munisipale woordvoerder, om kommentaar genader, maar teen druktyd het hy nog nie gereageer nie.

The South African National Road Agency (Sanral) het in 2022 aangedui dat hulle die R516-pad na Bela-Bela, asook drie strate — Rooibergweg, Chris Hani- en ’n gedeelte van Potgieterweg tot in Modimolle (die R101-pad) gaan opgradeer.

Hulle beplan ook om die verkeersirkel by die Gereformeerde Kerk, die sypaadjies, stormwaterstelsel en straatligte in Chris Haniweg op te gradeer.

Jeedee Cloete, VF Plus-raadslid, het in reaksie aan Die Pos gesê hy wag op Sanral-verteenwoordigers om sekerheid te kry oor die datum waarop die opgraderings gaan begin.

Related Articles

Back to top button