Local news

Vlamme verwoes huis

Die vlamme het niks van Philip Bezuidenhout en Jenny Roets se huis oorgelaat nie.

1’n Brand wat op Maandagaand 13 Februarie by hul huis in Steve Tshwetestraat in Modimolle uitgebreek het, het binne enkele ure alles vernietig.

Volgens Bezuidenhout was hulle nie tuis toe ’n buurman kort ná 20:00 gebel het om te sê dat hul huis aan die brand is nie.

“Ons kon dadelik sien dat die skade reeds baie groot is en dat ons min sou kon red,” het hy gesê.

Die brandweer het ook opgedaag nadat bure hulle ontbied het.

Marcelle Marais, wat in die Nylsrus-kompleks langsaan woon, se huis is enkele meters weg van dié van Bezuidenhout.

Die vlamme het binne enkele ure alles in die huis vernietig ten spyte van talle bure en weldoeners se pogings om die vuur te blus.

“Ek het iets gehoor wat soos ’n geskuif of geskarrel klink. Dit is toe dat ek sien daar is vlamme op die bure se dak. Ek het dadelik iemand gebel vir hulp en my tuinslang gekry om my huis en erf nat te spuit,” het sy gesê. “Ons het baie groot geskrik. Verskeie bure het hul tuinslange gebruik om die brand oor die muur te probeer blus.” Die laaste vlamme is net ná 23:00 geblus.

Die huis wat gebrand het, is in ’n pypsteel-erf geleë. Nie een van die naburige eiendomme is beskadig nie.

Bezuidenhout en Roets sê hulle het so te sê niks oor nie. Al hul klere, meubels en sentimentele besittings het verbrand.

“Ons het nie eens ’n enkele foto van die kinders oor nie. My houtwerktoerusting; alles is weg,” het Bezuidenhout gesê.

Hy is reeds ’n hele ruk werkloos en het ’n inkomste deur sy houtwerk verdien.

Hy vermoed dat daar moontlik ’n kortsluiting kon gewees het kort nadat beurtkrag verby was en dat dit die brand veroorsaak het.

“Ons is so dankbaar vir almal wat kom help het. Al Mampoerboer Pub & Grill se mense het opgedaag — van die kroegman tot die eienaar en hul kliënte. Hulle het gesê ons kan enige tyd net opdaag vir ’n bord kos,” het hy emosioneel gesê.

“Daar is soveel ander mense wat ingespring het om ons te probeer help.”

Indien iemand huisraad of klere wil skenk, kan hulle vir Nikita Walkinshaw by tel. 072 571 9154 bel.

Related Articles

Back to top button