Local news

Tweede kans bring groot liefde

Die boontjies en pampoen kook lustig op die stoof en uit die oond kom die aroma van vleis wat geurig bak.

Debbie Herbst roer ’n pot terwyl Jaco, haar man, geselsend breekgoed wegpak. Die twee doen ’n kombuiswals al om mekaar soos wat daar kosgemaak en opgeruim word. ’n Hondjie kom bedel vir ’n lekkerny en hul seun, Fritz, haal ’n pak skyfies uit die kas. Om die kombuistafel begin ’n lekker kuiersessie en daar word spontaan gelag vir al die sêgoed.

Dié prentjie van huishoudelike saligheid speel af in die Herbst-gesin wat buite Modimolle woon se huis.

Hulle koester hierdie geluk wat ’n tweede kans op die liefde vir hulle gebring het. Liefde is nie net die jonges beskore nie.

“Ek weet nie wie van ons twee was die bangste om weer te probeer nie,” vertel Debbie.

Sy en Jaco het mekaar ontmoet kort nadat sy geskei is. Sy was ’n enkelma met ’n sewejarige seun wat beperkte sig gehad het weens Stargardts-siekte.

Jaco vertel dat hy in sy jong dae nogal ’n haan onder die henne was en baie lief was vir “iets om te drink”.

“Ek het baie swak keuses in my lewe gemaak en besluit as die Here nie vir my ’n vrou stuur nie, bly ek eerder alleen.”

Jaco, wat in die polisie se springstofeenheid in Musina gewerk het, het Debbie by die forensiese laboratorium ontmoet. Hulle het begin kuier en sy het na die springstof-eenheid toe geskuif.

“Mense ken dit eintlik as die ‘bomb squad’,” sê Debbie.

Die twee is dadelik aan die lag en vertel van al die noue ontkomings wat hulle al gehad het met voorwerpe wat kan brand en ontplof. Dit is nie ’n beroep waarin daar veel grasie is vir foute maak nie. Jaco vertel dat hy vier weke in die hospitaal deurgebring het nadat hy ernstige brandwonde op veral sy hande opgedoen het. Die twee het verskeie staaltjies van hoe ver en hoe vinnig hulle moes hardloop met ’n 30 sekonde lont wat brand en dan baie hard bid dat hulle nie slange in die gras teëkom waar hulle wegduik vir skuiling nie.

“Ons het in die tyd wat ons saam gewerk het, besef hierdie verhouding kan werk. Ons het nie kwaad geword vir mekaar as die een die ander een reghelp nie. Ons was geduldig en het baie pret so tussendeur die werk gehad,” sê Jaco.

Debbie laat tong-in-die-kies vanaf die kospotte hoor: “Ek dink eintlik het hy net sy hart op my kind verloor en toe maar met my getrou.”

“Ek was 39 jaar oud toe ek vir die eerste keer getroud is. Natuurlik was dit nie altyd maklik nie. Ons het ons moeilike tye ook gehad,” vertel Jaco. “Ek het nie kinders van my eie gehad toe Fritz in my lewe gekom het nie.”

Daar is duidelik ’n hegte band tussen pa en seun.

“Ek moes myself maar uit die twee manne se meningsverskille hou. Dit was moeilik en daar was heelwat trane, veral toe Fritz kleiner was. Ek het besef dat dit die enigste manier sou wees hoe hulle ’n hegte verhouding kon bou,” sê Debbie.

Waaraan sou hulle hul goeie huwelik toeskryf?

“Ons is nie fyngevoelig nie en raak nie opgewerk oor die klein jakkalsies in ons lewens nie. Dit is wat vir baie mense konflik veroorsaak. Ons deel ons huistake — ek maak kos en sy was skottelgoed of andersom,” sê Jaco.

“Ons is groot maats,” sê Debbie. Ons lag saam en lees saam boek. Die belangrikste is dat ons saam glo en saam bid.”

Related Articles

Back to top button