Local news

Hoe rooier hoe mooier vir dié ‘TV-boer’

’n Aantreklike man met ’n breë glimlag, kuiltjies en ’n paar mooi groen oë onder ruie donker wenkbroue wag my in by die hek voor sy plaashuis.

Louis Malan lyk soos een van daardie storieboekhelde waarvan ek as ’n tiener gelees het. Die soort man wat jou pa graag sal wil hê jy moet huis toe bring. Voeg daarby dat hy ’n suksesvolle wildboer is en boonop ’n romantiese streep het as dit by die liefde kom, dui alles mos op ’n wenresep.

Louis (26) is tans op die kassie in die Boer Soek ’n Vrou-reeks en kykers sit vasgenael om te sien of hy sy pasmaat gaan kry.

Ons gesels met ’n beker koffie in die hand buite voor sy groot oopplankuiervertrek op sy plaas sowat 40 km duskant Bela-Bela. Ek knibbel aan die droëwors wat hy voor my neersit. “Ons maak dit self,” verklap hy nadat ek bieg dit is van die lekkerste wat ek nog geproe het.

Louis Malan (26) wat tans te sien is in die gewilde televisiereeks Boer Soek ’n Vrou.

“Die meisies is reeds almal terug huis toe nadat hulle op die plaas gekuier het. Jy gaan maar self moet kyk wat gebeur het,” sê hy met ’n ondeunde vonkel in sy oë.

Dan vertel hy sy vriend het hom ingeskryf en al voorwaarde was dat hy nie mag kop uittrek indien hy deurdring tot die eindronde nie. “Ek het nooit gedink ek sal onder die toptienboere beland en dan nog boonop een van die vyf wees wat deurdring na die eindronde nie. Ek het gedink teen dié tyd is ek al ‘gesettle’ met ’n vrou en kinders, maar dit het nie gebeur nie.”

Hy gee wel weg dat die tien meisies wat hy in Kaapstad ontmoet het, almal van die eienskappe gehad het wat hy in ’n vrou soek.

“Ek het mense ontmoet wat ek nooit sou nie en ek het ongelooflike tye gehad wat ek vir niks sal verruil nie. Dit was uit en uit die moeite werd om deel te neem. Dit was moeilik om te kies, want nie een van my keuses sou verkeerd gewees het nie, maar ek gaan niks uitlap. Jy moet self kyk,” lag hy.

Vir dié jong boer is positiwiteit uiters belangrik. Sy pasmaat moet, soos hy, positief wees, uitdagings aangryp en die beste daarvan maak.

“As jy positief is, sal jou lewe ook so uitdraai. Iets soos beurtkrag raak ons almal, maar ek bly steeds in die beste land in die wêreld. In uitdagings is daar uitkoms en jy kan besluit of dit positief sal wees. Ons het almal swaargetrek toe Covid-19 ons getref het. Jy kon handdoek ingooi of gaan sit en alles voor jou herevalueer en beplan het. Op die ou einde het ons hier ’n bestuurspraktyk inwerking gestel wat ons baie geld gespaar het. Ons boer slimmer en meer effektief. As Covid-19 nie gebeur het nie, sou hierdie herbeplanning nie gebeur het nie. Daar is soveel geleenthede; jy moet net die gaping sien en vat.”

Netheid is ook bo aan sy lysie in sy soeke na die ideale vrou.

“As sy nie netjies is nie, hoe gaan sy na haar man en kinders omsien. Die mooiste grimering wat ’n meisie kan dra, is die opregte glimlag op haar gesig. As sy daarby rooigeverfde naels en lippe het, is ek in die palm van haar hand. Daardie rooi naels steel my hart,“ lag hy.

Goeie kommunikasie en eerlikheid is ook twee eienskappe wat vir hom belangrik is.

“Julle moet mekaar kan verstaan. Partykeer is konflik ’n goeie ding omdat julle dan saam ’n oplossing kan kry.”

Met Valentynsdag om die draai wys hy na die rose in sy tuin.

“Daar is niks wat soos ’n roos lyk of ruik nie; al het dit dorings. Ek dink ’n mens moet elke dag soos Valentynsdag uitleef. Dis lekker om vir iemand blomme te gee, maar niks is lekkerder as die glimlag wat ek terugkry nie.”

Hy bieg ook dat sy ouma Dina die vrou is wat hy na aan sy hart dra, al is sy in 2020 oorlede. “Sy was ’n fenominale vrou en in ’n stadium al vrou in my lewe.”

Louis het grootgeword by sy ma in Pretoria toe sy ouers geskei is en aan die Afrikaanse Hoër Seunskool gematrikuleer. Hy is toe na die Tshwane Universiteit van Tegnologie waar hy wildplaasbestuur studeer het.

Hy en sy pa bedryf die boerdery hier op die plaas saam en sy broer behartig die ander been daarvan — die bekende Malanseuns-kwekery in Pretoria.

“Ouma Dina was ’n ystervrou en ek het my positiwiteit by haar gekry,” sê hy. Hy vertel sy was altyd netjies en, ongeag haar gesondheidsprobleme, het sy nooit gekla nie. “Sy sou jou dag vir jou lekker maak en jy kon haar met enigiets vertrou.”

Hy het ouma Dina se resepteboek waarin haar beesstert, afval en heerlike melktert aangeteken is.

“As sy gekook of gebak het, het ek my vingers afgeëet. Ek hou van lekker eet. My gunsteling is ’n skaaptjoppie op die kole met pap en ’n lekker sousie.”

Louis sê hy hou nie van alleen wees nie en sal uit sy pad gaan om sy vrou elke dag op die hande te dra.

“Ek wil graag trou en sal bly wees as daar later twee kinders is. Ek weet ek sal ’n goeie pa wees.”

Voor hy regstaan vir ’n foto vertel hy van sy vliegtuiglisensie wat hy in 2015 gekry het. Dan het hy ook ’n liefde om self agter sy kamera in te skuif en die wild af te neem.

Met die wegry wonder ek of die oulike boer toe sy vrou gekry het. Ek sal egter maar saam met Die Pos se lesers op Donderdae-aande voor die kykkassie moet inskuif om uit te vind.

Related Articles

Back to top button