Local news

Privaat hospitaal in Modimolle: Lisensie vir hospitaal goedgekeur

Die eerste stap om ’n privaat hospitaal in Modimolle te vestig, is vandeesweek geneem met die toekenning van ’n lisensie aan die Waterberg Healthcare Hub.

Die Waterberg Healthcare Hub bestaan uit ’n groep sakelui waarvan slegs drie nie-plaaslik is nie. Die lisensie is toegestaan 17 maande nadat hulle ’n aansoek by die departement van gesondheid ingedien het. Die groep moet binne 18 maande ’n projekplan in plek hê, wat die kontrakteurs en beleggers insluit.

Inwoners het die nuus met blydskap begroet. Sedert die Phodi-Clinic in Bela-Bela se deure in April 2022 gesluit het, moes inwoners wat nie plaaslik hulp kon kry nie, stad toe ry vir noodgevalle en hospitaalbesoeke. Onveilige toestande snags op die N1-snelweg het die risiko om pasiënte na hospitale in die stad te vervoer, verhoog.

Die direksie van die Waterberg Healthcare Hub is (voor) Gerrit Bakker, Jakkie Boshoff en Marlene de Villiers. Agter staan Peter Michel, Dries Cronjé, Christo Jonker, Syd Catton, Fernando Goncalves, Hennie Blignaut en Wiets Botes. Daniel Ngwepe en Desiré Sehlapelo (onder) was afwesig met die neem van die foto.

Volgens Wiets Botes, besturende direkteur van die groep, maak die lisensie voorsiening vir die oprigting van ’n 120-bed hospitaal wat bestaan uit ’n mediese afdeling (40 beddens), chirurgiese afdeling (40 beddens) en pediatriese afdeling (10 beddens). Daar word ook voorsiening gemaak vir ’n intensiewe sorgeenheid (10 beddens), ’n 20-bed dageenheid en twee teaters.

Volgens Botes sal gesprekke met belangstellende beleggers eersdags begin. Daarna sal ’n argitek en ontwikkelaar aangestel word. “Hoewel die ligging van die hospitaal nog nie vasgestel is nie, sal ons dit graag in die middedorp van Modimolle wil vestig,” het hy gesê. Die hoop is dat die oprigting van ’n hospitaal die dorp se ekonomie kan stimuleer deur werkgeleenthede, die vestiging van verwante diensverskaffers, asook besoekers vanuit buurdorpe. Volgens Botes is daar na raming ses werkgeleenthede per bed geskep.

Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, het die nuus verwelkom.

Modimolle het duisende inwoners wat afgetree het in onder meer die Bosveldsig- en Kokanje-aftreeoorde. Die buurdorpe is ook gewilde aftreebestemmings. Die tekort aan mediese sorg is ongelukkig een van die faktore wat daartoe lei dat inwoners later hul eiendomme verkoop en na die stede verhuis.

Inwoners en sakelui is in Maart verlede jaar genooi na ’n algemene vergadering oor die projek. Tydens ’n opvolgvergadering is daar besluit om ’n maatskappy te stig en ’n projekbestuurder vanuit Gauteng aan te stel. Die direksie van die Waterberg Healthcare Hub is Wiets Botes, Jakkie Boshoff, Syd Catton, Dries Cronjé, Marlene de Villiers, Gerrit Bakker, Christo Jonker, Daniel Ngwepe, Desiré Sehlapelo, Peter Michel, Fernando Goncalves en Hennie Blignaut.

  • Die buurdorpe Thabazimbi en Lephalale het elk ’n kleiner Medi Clinic-hospitaal. Tydens ’n onlangse gemeenskapsvergadering in Bela-Bela is daar genoem dat African Health Care, wat die Phodi Clinic sedert 2017 bestuur het nadat hulle die ou St. Vincent’s-hospitaal oorgeneem het, glo weer wil aansoek doen om ’n lisensie.

Related Articles

Back to top button